top of page

Stap in die Drakensberg, bekyk die vallei by Valleyview Cottage

Updated: Jan 16, 2022

Ons vertel graag van ons reise met ons woonwa en waar ons kamp. Valleyview Cottage is egter selfsorg verblyf. Ons vertel van die plekkie omdat dit ons eie plekkie is wat ons ook verhuur aan mense wat vir ‘n naweek of meer die Champagne Vallei wil kom geniet.







Die kothuis is geleë in die Bergview Estate wat teen die hang bokant die Drakensberg Sun geleë is. As jy nie weet waar die Sun is nie, dit is so 30 km verby Winterton teen die Sentrale Drakensberg.

Die kothuis se uitsig is oor die vallei met die Champagne Sports Resort in die verte. As jy die bult uitry of die 300m te voet aanpak teen die bult uit, het jy die perfekte uitsig oor Cathkin Piek.

Die kothuis het slaapplek vir 6 gaste. Op die boonste vloer is ’n kamer met ’n dubbelbed met en-suite badkamer. Die badkamer het ’n bad en stort. Die skuifdeur maak oop op sy privaat patio wat selfs ’n beter uitsig oor die vallei bied.

Die kamers op die grondvloer bestaan uit een met 2 enkelbeddens en 1 kamer met ’n dubbelbed. Die badkamer het ook ’n stort en bad beskikbaar.

Al drie die kamers het ondervloerse verhitting.

Die kombuis het ’n yskas, mikrogolfoond en elektriese stoof. Die kombuis is goed toegerus vir die behoeftes van 6 persone.

Die eetkamer het ‘n tafel met sitplek vir 6 persone. Die sitkamer beskik oor ’n vuurherd wat handig te pas kom in die winter. Daar is ook ‘n TV in die sitkamer, maar hy is nie gekoppel aan DSTV of SABC nie. Die TV het wel ‘n USB punt en ‘n DVD speler, sou jy jou eie kykgoed wil saambring.

Die patio op grondvlak het ‘n braai area, met werkplek en wasbak langsaan. Dit is die perfekte plek om jou ete te geniet terwyl jy die vallei dophou. Omdat dit in ‘n U-vorm gebou is, is dit selfs tydens winteraande warm genoeg om daar te eet en te kuier.

Wat verblyf by plekke in die Bergview uniek maak, is dat mens vandaar direk in die Drakensberg kan instap. Die Ukhahlamba Wêreld Erfenis Terrein grens aan die gronde van die Estate en die Drakensberg Sun.

In normale tye is die geriewe van die Sun ook beskikbaar vir inwoners en gaste van Bergview, maar in spitstye en Covid tye moet mens liefs eers seker maak. Daar is al die fasiliteite wat jy van ‘n topklas hotel verwag. Daar is ook staproetes rondom die Sun, behalwe vir die roetes in Bergview en in die berge.

Die naaste winkels is oorkant die Drakensberg Sports Resort, by die Cedarwood Village. Mens kry meeste van die basiese benodighede hier. Daar is ook mense wat langs die pad hout en gevlegte mandjies verkoop. Winterton is ook goed toerus met ‘n groot SPAR, apteek en dokters.

Ons sal in ‘n latere artikel meer vertel van wat jy in die Champagne vallei kan doen. Vir nou belowe ons dat daar genoeg is!


Belangrike Inligting

Webwerf

www.wheretostay.co.za/valleyviewcottage

Kontaknommer

0833774984

E-pos

Valleyviewcottageintheberg@gmail.com

Video beskikbaar









Post: Blog2_Post
bottom of page