Kamp in Meiringskloof
- Heinrich van Wyk

- 17 hours ago
- 3 min read

Die Holkransgrot is een van die baie spesiale plekke in Meiringskloof
Ons het al baie oor Meiringskloof in die pers en sosiale media gelees. Dit het geklink na ‘n plek wat ons beslis van nader moet ondersoek.
Die gevolg is dat ons die laaste Woensdag in Februarie 2026 hier aankom. Ons het vooraf met die kantoor gesels oor opsies vir staanplekke waar daar wifi ontvangs is, omdat ons sekere verpligtinge gehad het. ‘n Paar staanplekke kwalifiseer daarvoor en ons is baie tevrede met ons staanplek 25.
Meiringskloof is minder as 2 km buite Fouriesburg. Die pad vanaf Gauteng het ons oor Villiers, Frankfort, Reitz en Bethlehem geneem. Met al die stories wat mens hoor oor die swak paaie in die Vrystaat, kan ons bevestig dat die pad tussen Bethlehem en Fouriesburg nie op standaard is nie (hoewel rybaar), maar die res van die pad is werklik baie goed. Steyn straat in Fouriesburg is een van daardie strate wat eers geteer was en deesdae soveel slaggate dat enigiemand met kunstande liewer daardie tande moet uithaal as hulle daar indraai. Gelukkig is die straat net ‘n paar honderd meter lank, en kan jy hom vermy as jy graag wil.
Terug na Meiringskloof : as jy van pragtige natuur, staproetes en ‘n rustige atmosfeer hou, moet jy beslis hom hoog op jou kamplysie plaas.
Die bestuur slaag daarin om die kamp baie netjies te hou, sonder om dit te laat voel dat jy in ‘n vyfster kamp is waar jy toppryse gaan betaal. Sommige staanplekke het meer grond as gras (dus ook meer bome vir skaduwee). Die webtuiste bied ‘n volledige kaart van die kamp asook ‘n foto, sodat jy vooraf mooi kan sien watter een om vir jou eie smaak te bespreek. In Februarie het ons besef dat hierdie area bietjie koeler is as Centurion waaraan ons gewoond is, met die gevolg dat die son ons regtig nie deur die dag gepla het nie. Wanneer die sonstrale die kloof verlaat, het ons kort daarna vir ‘n langmou kledingstuk gesoek.
Elke staanplek het ‘n kragpunt (gewone 3 punt), kraan met fonteinwater, asdrom en braaiplek.
Die oord het ook ‘n stuk of 12 chalets wat pragtige sandsteen geboue is. In die bos is ook ‘n chalet wat baie privaat geleӫ is met die naam van swaӫltjienes.
Die badkamers is baie netjies en het afsonderlike aantrekhokkies langs die storte en baddens. Die wasgoedkamer is ook baie goed toegerus.
By die kantoor is hout, vuuraanstekers en roomys te koop. Fouriesburg se winkels is nou nie die rede hoekom jy hierheen kom nie, maar die basiese items is beskikbaar. Daar is ook ‘n hele paar restaurante en ‘n U-Save winkel.
Die swembad het ‘n vlakker gedeelte, hoewel die grootste deel van hom naby 1.8 meter diep is. Ons was verbaas hoe lekker die water temperatuur was, gegewe dat die nagtemperatuur in die omgewing van 10 grade Celsius was.
Daar is soveel staproetes op die terrein, dat ons besluit het om daarvan te vertel in ‘n aparte inskrywing.
In kort : hier is baie, en hulle is pragtig. Dagbesoekers word ook toegelaat om die roetes te kom stap.
Meiringskloof is natuurlik ook baie sentraal geleӫ as jy plekke soos Lesotho en Clarens wil besoek, om nie eers te praat van die jaarlikse kersiefees en die feeste by Sandstone Estate nie.
Webwerf | |
Kontak nommer | 058 223 1035 |






























Comments