Kom Stap by Meiringskloof in die Oos-Vrystaaat
- Heinrich van Wyk

- 1 day ago
- 5 min read

Net buite Fouriesburg in die Oos-Vrystaat is die Meiringskloof Natuur reservaat. Ons het die kampeer daar baie geniet, maar die staproetes verdien ‘n spesiale vermelding.
Die roetes is almal verskeie opsies om in die kloof op te stap, en die langste een binne die reservaat duur sowat 3 ure om te voltooi.
Dagbesoekers het hulle spesiale parkering waar hulle voertuie veilig gelaat kan word. Sommer net verby die kantoor vind jy die eerste afdraai na die Spruitroete. As jy egter ‘n klein entjie verder aanstap met die tweespoor paadjie, vind jy die badkamers links en ‘n groot bord waarop die roetes geteken is. Dit is soortgelyk as die kaart wat jy by die kantoor kan kry.
Tussen die badkamers en die lapa is daar ‘n bord wat mooi aandui dat die staproetes eintlik daar begin.Die kortpad na die Spruitroete en die roete na die kruis op die rant aan die regterkant begin eintlik so paar meter vorentoe deur die karavaanpark (tensy jy reeds by die kantoor die Spruitroete geneem het).
Die Spruitroete is waarskynlik die kortste roete en loop natuurlik langs die spruit. Moenie dat feit dat hy kort is, jou mislei nie. Dit is ‘n pragtige roete. Toe ons hom aan die begin van Maart gestap het, het die spruit mooi geloop na die reӫns en was daar plante teen die hang wat pragtig geblom het.
Die roete na die kruis is waarskynlik die mees uitdagende van almal. Dit het ons so 30 minute geneem om tot by die kruis te vorder, maar ons asems het behoorlik gejaag. Vanaf die punt waar ons die spruit oorgesteek het tot by die kruis was net kort van 100 meter se klim in hoogte, met die totale afstand van 600 meter. Vanaf die rant is die uitsig oor die kloof pragtig, en die teenwoordigheid van die kruis laat ‘n mistieke gevoel as jy daar bo staan.
Terug na die begin: Vanaf die teken waar die roetes begin, loop die paadjie links van die spruit in die kloof op. Sommer kort nadat jy begin het, is die afdraai na die Maanskerm. Dit is ‘n steil maar kort klim tot by die Maanskerm.
Die Maanskerm is ‘n baie hoӫ oorhangende krans wat mens vanaf die kamp kan sien.
Oppad na die Maanskerm draai die paadjie na ‘castle view’ wat eintlik ‘n paar punte op die paadjie is vanwaar jy die Destiny Castle kan sien. Destiny Castle is ‘n kasteel op een van die ander koppe naby Fouriesburg. Teen ‘n koste kan jy die kasteel besoek.
‘n Entjie verder kruis die roete vanaf die onderste pad die castle view roete om jou boontoe na die kruinroete te neem. Die Kruinroete neem jou tot heel bo op die linkerkantste rant bo die kloof en volg dan die plato tot waar die kloof op sy einde kom aan die bopunt van die kettingleer.
Sou jy glad nie afdraai na die Maanskerm of die Kruinroete nie, volg die paadjie teen die kloof op en kruis ‘n klein beton damwal sodat jy dan teen die regterkantste hang beland. Vanaf hierdie roete kan jy ‘n vinnige stop maak by die piekniekplek, inloer by Swaeltjienes (‘n ou hut in die bos waar jy ook kan kom oorslaap), of die res van die roete boontoe volg.
Teen hierdie regterkantste hang, kan jy die roete stap tot by die Boesmangrot en die Holkrans.
Die water van die oord kom vanaf ‘n fontein bokant die Boesmangrot. As jy mooi oplet van onder af, sien jy ‘n watervalletjie wat oor die krans voor die grot stort. Daar is ook ‘n pyp wat na die kamp gaan. Maak seker dat jy nie enige skade aanrig nie, maar let mooi op teen die kranse waar jy verskeie boesmantekeninge kan sien.
Verder teen die kloof op, vind jy die Holkransgrot. Daar word beweer dat die Holkransgrot en die watertonnels (waarvan ons hieronder vertel) as skuilplek vir ‘n groot groep vrouens en kinders tydens die Boere-oorlog gedien het.
Die grot is massief en ‘n heerlike plek om uit te span vir piekniek.
As jy verby die Holkransgrot met die roete aanstap, kom jy weer by die spruit uit. Na ‘n rukkie se stap kom die kloof basies tot sy einde en is daar 2 roetes na die kruin : die kettingleer en Jacobs Ladder. Ons het nie Jacobs Ladder aangedurf nie, maar die kettingleer is ‘n senutergende klim van sowat 10 meter na die bokant. Wanneer jy bo is, sluit die paadjie aan by die Kruinroete wat jy reeds van ‘n vorige punt af kon volg.
Sou jy verder aanstap met die Kruinroete, bring die paadjie jou by die Fouriesburg dam uit. Daar is heelwat tekens dat groepe wat avontuur uitstappies doen, hier baie aktief is. Ons het verskeie kano’s daar aangetref wat wat vasgemaak is, asook ‘n heerlike braaiplek.
Aan die bopunt van die dam is die watertonnels. Die water het letterlik ‘n tonnel in die sandsteen uitgekerf deur die jare. Ons kon in die water in die tonnel opstap vir ‘n paar honderd meter en ons verkyk aan die prentjies wat gevorm word deur die lig wat deur die klein opening skyn. Om vanaf die kamp tot hier te stap, is sowat 3 ure uit en tuis.
Daar is nog ‘n moontlike roete vanaf die kamp met die naam van Cliffhanger. Jy moet ‘n permit by die kantoor bekom om hom te stap, omdat hy oor eiendom wat in private besit is gaan. Ons verstaan dat die roete sowat 7 km is om te voltooi.
Ons het al die paadjies netjies versorg gevind, en sal verseker hulle weer wil gaan stap.
Webwerf | |
Kontak nommer
| 058 223 0067 |





























Comments