top of page

Gestrand in die Katberg

Ons moes vir een nag in die middel van die pad kamp maak
Ons moes vir een nag in die middel van die pad kamp maak

Ons Katberg ekspedisie was nooit beplan nie.

Ons dag het op Teebus begin waar ons die uitloop van die Oranje Visrivier tonnel besigtig het. Ons volgende bestemming is Hogsback, hoog in die Amatola berge. Ons het geweet ons wil eers op Hofmeyr stop, wat ons toe gedoen het. Omdat ons plan op die toer was om te ry waar die wind ons waai, het ons nie veel teerpaaie en padtoestande bestudeer nie. As gevolg van byna geen selfoonsein, het ons teruggeval op ons Garmin. Ons Garmin kyk na paaie wat geteken is, nie na verkeerspatrone en wie laas daar gery het nie.

Ons loer in rustig in by die kerk op Hofmeyr
Ons loer in rustig in by die kerk op Hofmeyr

Elk geval, vanaf Hofmeyer ry ons toe meestal goeie grondpad na Tarkastad. Ons ry ‘n vinnige draai deur die dorp, en draai dan uit die dorp uit. In die verte sien ons twee koppies. Die mense van Tarkastad het jare terug besluit dat as Steynburg Teebus en Koffiebus kan hệ, hulle koppie ook name moet kry. Vandaar dan Martha en Maria.

Net nadat ons verby Martha en Maria is, kom die teerpad tot ‘n einde. Die padtekens kondig aan dat ons nou die Winterberg Bewaringsgebied binnery.

Ons besef dat die kwaliteit van ons rit baie beter gaan wees met ‘n bietjie laer banddruk. Ons stop langs die pad en verlaag die banddruk van die Hilux en die Bushwakka na 1.8 bar.

Ek kry die banddruk reg vir 'n grondpad
Ek kry die banddruk reg vir 'n grondpad

Garmin vertel ons dat ons moet regs draai na 30 kilometer. As ons die pad so kyk is dit geen probleem nie. Die plase waar ons verby ry lyk goed, en hoewel die pad plek-plek bietjie sinkplaat is, is dit geen probleem nie.

Hierdie gedeelte is deel van die Oos Kaapse hooglande. Mens kan jou regtig aan die natuur verkyk. Dis weer eens ‘n gedeelte van die land waarvan heeltemal te min mense bewus is. In kort, dis pragtig hier.

Halfdrie in die middag, dring Ronel daarop aan dat ons stop en iets te ete kry. Ons het lanklaas ander verkeer gesien, so ons stop gemaklik langs die pad. Ons begin wonder of ons vanaand op Hogsback gaan slaap. Gelukkig het ons geen besprekings vir verblyf nie.

Nadat ons ‘n vars koffie en toebroedjie geniet het, ry ons verder. Ons sien die pragtige gesig van die Thrift dam voor ons en ry basies oor die dam, of is dit nou deur die dam. Die pad kloof die dam in die helfte.

Verby die dam, vertel Garmin ons dat ons nou klaar is met die 30 km en kan nou regs draai. Sal dit nou ‘n grondpad of teerpad wees? Daar is ‘n hek voor, Ons gaan dus nou die Winterberg Bewaargebied verlaat. As dit nou ‘n goeie pad is, kan ons mos nog voor sononder in Hogsback wees?

Beide links en regs is toe meer ‘n graspad as ‘n grondpad. Die gehawende padpredikant beduie dat een rigting Queenstown is en die ander rigting Fort Beaufort. Garmin sê ons moet regs hou en daarna is die volgende draaipunt na 20 km. Ons raak stiller.

Hoewel ons bekommerd raak oor wat die middag nog gaan oplewer, besef ons ook dat dit hier nog mooier is as binne die bewaringsgebied.  Die veld waar ons ry het baie beeste en perde. Party van hulle vergaap hulle aan die Hilux wat hier met ‘n Bushwakka aan rondry! Ons is verbaas om ‘n paar bloukraanvoӫls hier aan te tref.

Langs die pad is ‘n perd wat duidelik goed versorg is. Dit beteken hier moet ‘n plaas wees. Die tyd stap egter aan, en dis amper 4 uur. Ons is nog ‘n entjie weg van Garmin se draaipunt

Ons moet heelpad mooi fokus. Ons kruis ‘n stukkende afvoerpyp waarvan net stukke beton oorgebly het. As ‘n band hierdie beton teen ‘n verkeerde hoek tref, gaan jy ‘n band afskryf en daarvoor is ons beslis nie nou lus nie.

Die beeste hardloop voor ons uit. Hulle ken seker ‘n Hilux. As ons die bult oorgaan sien ons beskawing in die verte: Dis ‘n toring! Sal die grootpad nou daar wees? Om ‘n toring te bou moet mens met voertuie daar kom, so dit sal seker vinnig beter gaan. Ons besef ook dat dit ‘n mikrogolf toring is. Dit beteken ons moet redelik hoog wees. Mikrogolf torings word nooit in valleie gebou nie.

Van valleie gepraat : ons sien dan die vallei. Daar is baie huise daaronder. Ons wonder watter dorp dit is? Ons stel later vas dat dit Muswa is wat ons sien. Het jy al van die dorp gehoor? Nee, ons ook nie. Dit is verre platteland hierdie!

Ons kry ‘n hele klompie waterpoele in die pad. Ronel moet seker maak dat ons nie gaan vassit of die Hilux of Bushwakka gaan seermaak nie. Sy beduie waar om te ry, maar vervies haar vir die bestuurder wat bietjie swak begrip van handgebare het. Ons kom ooreen watter handtekens wat beteken en daarna gaan dit beter.

Ons kry nog meer poele in die pad. Aan die een kant weet ons dat ons maklik kan deurry. Maar ons wil ook nie die movers van die karavaan wat elektries is, of hulle bedrading beskadig nie. Ons wil beslis ook nie onbepland alleen hier in die modder vassit nie!

Ons maak dan liewer seker hoe diep al die waterpoele is, en ry sover moontlik die water mis.

Ons bereik die mikrogolftoring. Soos ons kon verwag is daar nou nie juis ‘n kampplek en restaurant wat vir ons wag nie! Dit is verlate daar. Ons ry verby en Garmin vertel ons dat ons binnekort kan regs draai. Sal dit die pad wees waarvoor ons heeltyd wag?

Dit is half vyf toe ons aansluit by die R351. Met so ‘n streekpad nommer moet dit sekerlik ‘n goeie pad wees. Links gaan die pad na Queenstown via Whittlesea en regs na Fort Beaufort. Ons moet hier regs draai. Ons moet 18 km op hierdie pad ry, dan draai ons weer.

Die eerste deel van die R351 gee ons baie moed om nog in lig by Hogsback te kom. Dan raak die pad nat en sien ons ‘n sloot wat oor die pad gespoel is. Die sloot is heelwat groter as wat ons aanvanklik gedink het. Ons merk dat ‘n ander voertuig sy pad deur die veld gevind het rondom die sloot. As die ander voertuig dit kon doen, kan ons mos ook!

Ons ry suksesvol deur die veld om die sloot te mis.

Ons kry nog ‘n poel water om te ondersoek. Raak die poele groter? Ons ry suksesvol teen sy kant verby.

Dan begin dit eintlik baie goed lyk. Ons vorder ‘n hele paar kilometer. Maar dan kry ons die meester van al hierdie poele. Ons sal wel ‘n plan maak. Ons sien dat ander voertuie gereeld ‘n pad deur die veld kies om hierdie poel te mis. Ons doen dit met groot versigtigheid.

Ons ry verder. Dit raak nou vyfuur. Die pad raak nouer en steeds natter. Ons moet onthou dat ons ‘n karavaan aan die hak het.

Aan die een kant wil ons so gou moontlik hier wegkom. Die pad raak al moeiliker en ons onthou dat dit volgens die weervoorspelling vannag gaan begin reӫn. Aan die ander kant is die uitsigte net ongelooflik mooi.

Dan is daar ‘n  hek in die pad. Wat sal dit nou beteken? Seker maar dat as jy verder wil ry, jy dit moet oopmaak! Ronel speel hekwagter en ons gaan deur. Wat wag nou?

Op party plekke raak die pad nogal nat. Ronel stap vooruit om te kyk of dit veilig is vir die Hilux en Bushwakka om hierlangs te ry. Dis nog 9 km tot by die volgende draaipunt op ons GPS. As die pad so bly kan ons dit maak. Ons hoop ons kan dit nog vanaand doen voordat dit begin reӫn.

Daar is ‘n paar belangrike goed om te onthou as mens in hierdie omstandighede sleep. Een is dat die karavaan se wiele altyd kortpad vat en nie gaan loop op ‘n draai waar die sleepvoertuig loop nie. Die ander is dat wanneer mens oor rotse of deur slote ry, die punt waar die karavaan aan die sleepvoertuig haak, die laagtepunt is. Gelukkig het ons die Hilux met lugsakke by sy agterwiele toegerus. Hulle is reeds op maksimum gepomp. Ons haal ook die karavaan se voorste wiel (“jockey wiel”) af, en ontkoppel die drade wat sy ligte beheer. Hy moet so beweeglik as moontlik wees.

Ons vorder ‘n goeie end op die nat pad. Teen ‘n geroeste padteken is geskryf “GIANT SLAYER”. Ons het geen idee wat dit beteken nie. Ons kry ‘n pad wat regs teen die bult uitdraai. Daar is meer spore, maar die lyk sopnat en modder. Watter pad sal ons kies?

Ons ondersoek albei kante en besluit dan om links te hou. Garmin sê nog so 8km, dan kan ons draai en is ons hopelik onder.

Ons sien op die Garmin dat die pad ‘n behoorlike “S” voor ons maak. Dit beteken dat dit baie steil gaan raak. Alle hulp wat die Hilux bied word nou gebruik. Donkie rat is in werking, en die Descent Control is aan.

Dis eers weer tyd om die pad te inspekteer. Watter lyn is die veiligste om te ry? Ons kruip letterlik vorentoe die bult af.

Hier is nou nie meer ‘n draadheining teen die kant wat die Hilux kan krap nie, maar die afgrond links voel so bietjie te naby vir my om gemaklik te wees.

Die volgende uitdaging laat ons wonder: Gaan ons nog vanaand moet pad bou hier? Ons spoor ‘n paar klippe op en lig daarmee die onderste hoek waar die wiele moet loop. Daar is ‘n groot klip in die pad. Ons probeer hom met ‘n hefboom-effek rol, maar hy het ‘n piramied vorm. Die gevolg is dat hy dadelik weer plat lê. Uiteindelik kry ons hom net vêr genoeg uit die pad om verby te kom.

Voel-voel kruip die Hilux en Bushwakka hier oor. Ons haal die S-draai en treetjie vir treetjie kronkel ons sukselvol om hom. Dan stadig verder deur die nat pad, totdat die volgende skerp draai treetjie vir treetjie baasgeraak word.

‘n Ruiguit stuk pad met takke wat hom toevou begroet ons. Stadig, treetjie vir treetjie raak ons hom baas. Ons kry ietwat van ‘n gelykte, maar merk die volgende uitdaging. ‘n Afgrond van byna ‘n meter wat voor ons wag. Dit is sewe-uur en byna donker. Ons besluit om halt te roep en kamp te maak vir die nag.

Ons stabiliseer die karavaan vir die nag. Die bed word uitgevou al moet hy tussen die takke inpas. Ronel slaan vinnig iets te ete aanmekaar.  Ons was die nodigste en  klim in die bed. Dit is ‘n baie onrustige nag. Deur die loop van die nag het die reӫn behoorlik uitgesak. Die wind het verwoes gewaai, en dan reӫn dit weer.

Ons koppe maal deur die nag. Voor ons is n massiewe hindernis en 8 km wat ons geen idee het wat wag nie. Ons het genadiglik op hierdie stadium goeie selfoon opvangs. Dit lyk of die draaipunt van 8 km verder by die Katberg Hotel en Landgoed is. Dit is die tipe plek waarvandaan mens ‘n beter pad na die beskawing sal verwag. Sal ek in die oggend tot daar stap en gaan hulp soek as dit nodig is?  As ons omdraai, is dit bult op teen die rotse waaroor ons gister gery het. Maar nou is hulle nat. Ons kan nie bekostig dat die Bushwakka gly en ons oor die rand sleep nie. Dis een ding om ‘n karavaan te verloor, maar ons moet self darem veilig wees.

In die donkerte van die nag klink dit kompleet asof ‘n klomp voertuie by ons verbyjaag. Dan is dit weer stil, net om later weer die voertuie te hoor. Die volgende oggend ontrafel ons die raaisel: hoog bo ons is ‘n elektriese hoogspanningslyn wat deur die wind gewaai word en hierdie geluide veroorsaak!

Teen 7 uur die volgende oggend besef ons dat ons hulp nodig het. Ons bel eers die hotel, maar daar is geen antwoord nie. Ons bel die MTN Noodnommer. Hulle skakel ons deur na die polisie stasie op Fort Beaufort. Hulle beveel iemand aan. Ons stuur die inligting deur maar hulle laat weet later dat hulle nie die regte toerusting het om te help nie. Die konstabel by die polisiekantoor bel ons vier keer deur die dag om te hoor of ons veilig is.

Ronel herhinner my daaraan dat my broer, Barry, hierdie wêreld ken en altyd met ‘n plan vorendag sal kom. 10 minute later is ons in kontak met ‘n kontak uit Queenstown. Hannes sal help, terwyl Barry se boodskap sê hy dink dat ons in die gramadoelas is.

Hannes se stemboodskap laat ons mooi verstaan dat ons nie op maklike paaie is nie. Hy verduidelik dat hy ‘n vorige keer deur die rivier moes ry van die ander kant af. Daarom gaan hy vanaf Katberg Hotel die pas opry om by ons uit te kom.

Net na 10 uur die oggend daag Hannes op. Ons haak die Bushwakka aan sy bakkie wat heelwat hoӫr as myne is. Ronel vou haar arms om haar gesig wanneer Hannes se bakkie die Bushwakka oor die hindernis neem. Hy is skud en hel gevaarlik oor, maar dan is hy onder. Ons volg maklik in die Hilux sonder enigiets aan die hak en is vinnig oor die hindernis.

Na ‘n paar honderd meter stop ons. ‘n Bakkie wat oppad was na die MTN toring het in ‘n sloot beland en lê op sy pens. Hy moet eers uit voordat ons kan verder. Hannes gebruik die wenas om hom uit te trek. Eers sonder sukses, maar dan grawe ons die voorwiel oop, en die bakkie is uit die sloot.

Dis nie lank nie, toe kan ons verder ry. Behalwe vir ‘n paar plekke waar die pad nogal nat is, is daar geen rotse om oor te klim of slote om deur te gaan nie. Ons bereik die onderkant veilig.

Nadat ons gedraai het, kry ons die pad na Whittlesea. Hannes beduie ons die veilige pad Hogsback toe voordat ons groet. Ons draai af by Seymore en ry nog 25km op ‘n baie nat grondpad. Hy is egter niks in vergelyking met die pas nie. Ons bereik die teerpad by Hopefield en draai links op die teerpad na Hogsback.

Minder as ‘n halfuur later is ons in Hogsback. Ons slaan kamp op in die gietende reӫn. Ons kampplek het ‘n onderdak kuierplek met ‘n groot kaggel. As die enigste gaste daar,  maak ons ‘n heerlike vuur en slaap daardie aand sonder enige bekommernis.

Ons dankbaarheid is groot teenoor die liewe Vader wat Sy hand oor ons gehou het, en dat Hy Hannes oor ons pad gebring het.

Met geen verkeer nie, kry ons 'n idiliese stop om middagete te maak
Met geen verkeer nie, kry ons 'n idiliese stop om middagete te maak
Die beeste wonder wat doen hierdie Hilux hier met 'n Bushwakka agter aan
Die beeste wonder wat doen hierdie Hilux hier met 'n Bushwakka agter aan
Ons kry tot bloukraanvoels langs die pad
Ons kry tot bloukraanvoels langs die pad
Pragtige perde laat ons dink hier moet plase wees
Pragtige perde laat ons dink hier moet plase wees
Ons bereik die mikrogolftoring, maar hy is verlate
Ons bereik die mikrogolftoring, maar hy is verlate
Die pad raak rowwer, maar die uitsigte mooier
Die pad raak rowwer, maar die uitsigte mooier
Geen onderhoud is vir baie jare op hierdie pas gedoen nie
Geen onderhoud is vir baie jare op hierdie pas gedoen nie
Nie die beste pad vir karavaan sleep nie!
Nie die beste pad vir karavaan sleep nie!
Groot klippe word geskuif en pad word plek-plek gebou
Groot klippe word geskuif en pad word plek-plek gebou
Slegte paaie beteken nie die uitsigte is nie besonders nie
Slegte paaie beteken nie die uitsigte is nie besonders nie
Net voor donker het ons oor die klippe en deur die takke geskuur
Net voor donker het ons oor die klippe en deur die takke geskuur
Ons maak kamp vir die nag
Ons maak kamp vir die nag
Ons stop by die obstruksie waar ons amper 'n meter moet daal oor die rotse
Ons stop by die obstruksie waar ons amper 'n meter moet daal oor die rotse
Koffie en beskuit terwyl ons vir Hannes wag
Koffie en beskuit terwyl ons vir Hannes wag
Hannes sleep MTN se bakkie uit die modder met sy wenas
Hannes sleep MTN se bakkie uit die modder met sy wenas
Ons karavaan agter Hannes se bakkie. Dis nie die ideaal nie, maar beter as om hom te beskadig
Ons karavaan agter Hannes se bakkie. Dis nie die ideaal nie, maar beter as om hom te beskadig
Tyd vir groet en dankbaar wees
Tyd vir groet en dankbaar wees

Comments


Post: Blog2_Post

©2021 by Ons Reis. Proudly created with Wix.com

bottom of page