Ons besoek die Oranje Visrivier Tonnel
- Heinrich van Wyk
- Apr 27
- 4 min read

Die Oranje Visrivier Tonnel is gedurende 1966 tot 1975 gebou om water van die Oranjerivier na die Groot Visrivier in die Oos-Kaap te lei. Die eerste 4 jaar van die projek is gebruik om die infrastruktuur vir die bouwerk te vestig. Paaie en dorpe is gebou. Gedurende dieselfde tyd is die Gariepdam ook gebou.
Bouwerk het op die dieselfde tyd op verskillende plekke begin en daar moes mooi beplan word sodat die uitgrawings mekaar op die regte plekke ontmoet. Die tonnel neem die water met natuurlike vloei (daar is ‘n 2% gradient) vanaf Oviston (afgelei vanaf Oranje Visrivier Tonnel) 83 km verder tot waar dit in die Teebus rivier uitvloei.
Gedeeltes van die kontruksie is deur Franse en Italiaanse maatskappye gebou. Die gevolg was dat die nogal ‘n redelike internasionale geselskap was wat in die Karoo aan hierdie projek gewerk het.
Gedurende Februarie 2025 besoek ons Oviston en Teebus om te sien hoe dit vandag daar uitsien. Oppad soontoe stop ons eers by Bethulie. Ons is teleurgesteld dat ons nie suksesvol is om die hotel te besoek nie. Daar word blykbaar duisende boeke uitgestal. Na ‘n besoek aan die konsentrasiekamp begraafplaas buite die dorp kruis ons die brug oor die Gariep.
Die brug dra beide trein en motor verkeer oor die rivier. Dit is aan die bopunt van die Gariepdam, 50km vanaf die wal.

Hiervandaan ry ons deur Venterstad na Oviston. Die inlaat van die Visrivier tonnel is daar geleӫ. Ons soek eers die kampterrein, maar vind dan die parkeer area met ‘n uitsig op die inlaat tonnel. Daar is nog heelwat mense wat op Oviston woonagtig is, hoewel daar tekens is van geboue wat in onbruik verval het.

Hiervandaan is dit 83 km na Teebus waar die tonnel se uitlaat is. Ons merk vanaf die pad na Steysburg die ingange na die verlate fondasies van Midway en Endrom.
‘n Paar kilometer verby Steynsburg is die bekende Teebus en Koffiebus koppies in die verte sigbaar. Net voor Teebus draai ons af na die plaas, Fonteintjie. Ons het gereӫl om op die gras van die gastehuis te kamp vir die nag, en dan sal ons gashere ons die uitloop van die tonnel gaan wys. Die gras om die huis en die kamp langsaan is baie groen. Willemien en Johan boer met skape en mielies. Hulle maak veevoer pille van hulle eie gewasse en is ook die eerste plaas in die lyn wat water uit die skema ontvang.
In hulle area is daar 1800 hektaar onder besproeing, terwyl die hele skema meer as 30 000 ha onder besproeing het. Weekliks moet elke boer sy aanvraag deurgee na sy waterraad wat weer die die aanvraag vir die oorkoepelende liggaam gee wat met Dept Waterwese skakel. Hierdie aanvraag bepaal hoeveel water vanaf die dam by die tonnel ingelaat word. Willemien gaan wys ons die “swembad” waar die tonnel uitborrel. Dit lyk soos ‘n baie groot swembad met die doel om die krag van die water te breek. Die water loop dan by die kantwal van die swembad oor in die kanaal wat verder gaan tot in die Teebus rivier.
Ons is geskok om by Willemien te hoor dat dat die kraaie baie groot vyande van die skaapboere is. Hulle val die ooi aan wanneer sy besig is om te lam, en pik haar oӫ uit en sal ook die lammetjie se naeltjie begin pik.
Daar is ‘n kruis heelbo op Teebus koppie opgerig. Baie jare gelede het ‘n onderwyser die kinders tydens ‘n vakansie besig gehou en ‘n kruis geplant. Die kruis het mettertyd deurgeloop onder die weer en omgeval. ‘n Paar jaar gelede het wyle Theuns Jordaan se pa kom navraag doen. Hy was by die Weermag in Graaf Reinette betrokke. Hy reӫl toe ‘n opleidingsvlug met ‘n Alouette helikopter wat weer ‘n kruis plant. Na ‘n paar jaar het die Weermag se kruis ook omgeval. Van die bure het onlangs ‘n alumium kruis daar geplant wat hopelik langer sal hou as die aanvanklike houtkruise.
Teen die koppie is ‘n igloo (soortgelyk aan die wat deur die padbouers gebruik word) opgerig. Johan neem gaste daarheen met sy viertrek bakkie. Hy voorsien jou van ys en hout vir die middag en nag waar jy dan met minimum geriewe en ‘n wonderlike uitsig kan klaarkom. Dit moet ‘n wonderlike ervaring wees teen slegs R50 per persoon.
Ons kamp heerlik op Fonteintjie se grasperk. Ons word van hout voorsien en braai by die boma. Die volgende oggend besluit ons om wel verder te ry (die igloo oorslaap en die opsie van « wild water rafting” het nogal baie aanloklik geklink).
Die watervloei in die tonnel word jaarliks vir 6 weke in Mei en Junie gestop sodat ‘n behoorlike inspeksie van die tonnel gedoen kan word. As jy tydens daardie tyd daar wil gaan inloer, of die uitvloei in sy volle glorie wil besoek, skakel gerus Fonteintjie. Hulle is baie gasvry en gaan jou waarskynlik help.
Stop ook by die mense van Karoo River Rafting vir ‘n dag of twee se pret op die water van die Groot Brakrivier. Dit is nie aldag dat mens die geleentheid kry om in die Karoo waterpret te hê nie.
Die gastehuis op Fonteintjie is ‘n tipiese ou Karoo plaashuis. Al die vertrekke is groot en gee jou ‘n baie welkome gevoel.
Kontak | Nommer |
Fonteintjie (Verblyf) bespreek by Wilma | 083 378 6410 |
Karoo River Rafting (James) | 084 429 9944 |






Comments