Kampeer by Zinkwazi

Toe ons vroeg in 1991 in Witbank gevestig het, was ek bevoorreg om ‘n maatskappymotor te kon ry. Dit beteken mos dat mens sommer lang afstande kan ry, sonder dat die vervoer jou iets kos. Dus het ons koppe vinnig kus toe gestaan vir ‘n kampnaweek. Ons eerste uitstappie met daardie motor en ons nuwe Venter sleepwa was destyds na Zinkwazi.
In 2026 woon ons minder as ‘n uur van Zinkwazi af, en ons gaan kyk wat het alles daar verander en wat het dieselfde gebly.
Ons aankoms is op ‘n Dinsdagmiddag in die buite-seisoen stilte.
Ons vind ‘n lekker groot staanplek op nommer 105 en geniet die oord se pensionaris aanbod. Die oord se naam is deesdae die Zinkwazi Lagoon Lodge (die 1991 naam kan ek nie onthou nie!). Dit is natuurlik teen die Zinkwazi rivier geleӫ aan die noorde-kant van die dorpie.
Staanplekke wat in 1991 nie gras gehad het nie, het steeds nie gras nie. Die rede is eenvoudig dat die digte blaredak van die bome dit uiters moeilik maak om enige gras te vestig. Staanplek 105 (soos meeste) het sy eie braaiplek, kragpunt (gewone munisipale prop) en kraan byderhand.
Naby ons staanplek is unisex badkamers (waarvan een ‘n bad het) met ‘n onderdak gedeelte vir wasgoed en skottelgoed. Daar is eintlik ‘n paar badkamers versprei deur die kamp.
Die hotel en chalets is meer onlangs gebou. Die Padel-bane is splinternuut. Langs die Padel-bane is sambrele met tafeltijes en ‘n kiosk wat jou bedien. Aan die anderkant van die tafeltjies is ‘n nuwe put-put baan.
Hoewel die grens aan die Zinkwazi rivier kort is, is dit tog toegang vir verskeie bote en aktiwiteite. Daar is selfs ‘n boot wat jou gereeld strand toe neem (padlangs sowat 500m se stap). Dit blyk dat die bote vir verskeie pret-uitstappies beskikbaar is tydens die hoof seisoen.
Die redelik nuwe restaurant blyk baie gewild te wees. By die waterfront is daar ook ‘n mooi kuierplek wat gaste beslis in seisoentyd gaan geniet (gesluit tydens ons besoek). Die konferensie-geriewe is modern en is naby ‘n swembad en ‘n dam gebou.
Zinkwazi is verseker ‘n rustige dorpie. Dit kom voor asof die munispale dienste gelewer word en die dorpie is mooi skoon. Daar is min parkering by die strand, maar vanaf meeste huise kan jy elk geval tot daar stap.
Net suid van die strand is die Black Rock Park. Ek was verbaas het oor hoe netjies dit gehou word. Dit grens aan die strand en het netjies braaiplekke met piekniektafels en bankies.
Hoewel ons hom nie besoek het nie, was die Zinkwazi Beach Café oop. Daar is ook eiendomsagente, sou jy besluit om heelwat langer te vertoef. Ons het geen kruideniersware winkel in die dorp gesien nie, maar Kwadukuza (voorheen Stanger) is darem net 20 minute daarvandaan.
Ons gevolgtrekking is die uitdrukking “hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde”
Zinkwazi is sowat 45 minute Noord van King Shaka Lughawe aan die KZN Noordkus geleӫ.



































Comments