Midweek by Dube
- Heinrich van Wyk

- 1 day ago
- 3 min read

Dit is ‘n warm Sondagmiddag in vroeg Februarie toe ons by Dube Game Lodge aankom. Die rit vanaf Centurion deur Brits het net meer as ‘n uur geduur.
Die papierwerk word vinnig by die kantoor afgehandel. Ons kry ‘n kaart van die kamp en word beduie na ons staanplek. Ons vriende wat hierdie staanplek aanbeveel het, het regtig goeie smaak en weet presies waar die koeltes op Dube val wanneer mens dit baie nodig het.
Ons staanplek is reg langs die koue swembad wat nie deel van die ontspannings area is nie.
Ons slaan vinnig kamp op, en gaan beproef die swembad. Later stap ons na die ontspannings area en besef dat al die staanplekke tog relatief naby aan hierdie gedeelte is. Met 200 staanplekke en 22 chalets, kan hierdie gedeelte seker baie besig raak in seisoentyd? Gelukkig is dit ‘n oop area en baie spasie rondom.
Die lekkerte van midweek (dis nou Sondag tot Vrydag), is dat gaste en hulle woonwaens versprei is deur die kamp en ook so by die swembaddens.
By ons staanplek is ‘n draagbare braaier, kraan en kragpunt (blou sok tipe). Al die staanplekke het ook ‘n gedeelte met plaveisel sodat ons met opslaan besluit om nie eers die grondseil uit te haal nie.
Daar is ‘n hele paar blokke badkamers. Hulle is netjies het presies wat jy verwag in ‘n kwaliteit kamp. By die badkamers is ook fasiliteite vir jou porta potti en skottelgoed wasgeriewe. By die geboue teen die ontspanningsterrein is ‘n ruim vertrek met wasmasjiene.
Die winkel is puik toegerus. Behalwe die items wat gaste gewoonlik vergeet, het hulle ‘n hele afdeling met toerusting van Campmaster. Die restaurant is reg teen die ontspannings-area. In hierdie warm wêreld is daar sommer 2 roomys masjiene!
Behalwe ‘n heerlike groot swembad, is hier ‘n lui rivier “lazy river” asook verskeie glybane. Net buite die kampterrein is ‘n dam waar jy kan gaan lyn natmaak (en daar IS vis in al het hulle nie van ons aas gehou nie!).
Sommige chalets is net buite die karavaanpark. Ander chalets is deur die wildskamp versprei wat die gaste ‘n heel ander ervaring bied. Van die wildskamp gepraat: ons kon elke oggend tussen 4 en 6 km deur die wildskamp stap sonder om ons spore te kruis. Die wild is baie mak (ek’s nie seker hoekom ons hulle dan wild noem nie – grappie). Behalwe die algemene rooibokkies, is daar bosbokkies, kameelperde, elande, zebras, blesbokke en dies meer.
Woensdag oggend om 10 word al die gaste genooi vir koek en tee in die saal. Nadat almal lekker geӫet het, word ons trakteer om sommer ook gou ‘n pot Bingo te speel.
Heelwat afgetrede paartjies hou daarvan om sommer vir ‘n maand of so by Dube te staan. Ons was verras toe ‘n groep gaste ons nooi om by hulle aan te sluit en een aand ‘n heerlike braai en kenmekaar om die kampvuur te geniet. Die kampeerders is sommer een groot familie.
Ons verstaan nou hoekom dieselfde gaste weer en weer by Dube opdaag.
Webwerf | |
Telefoon nommer | 073 171 8331 |
Besprekings |

























Comments