Jeffreysbaai Karavaanpark is ‘n uitstekende basis vir ‘n lekker see vakansie
- Heinrich van Wyk

- 4 days ago
- 2 min read

Jeffreysbaai Karavaanpark is verseker een die beste kampeerterreine onder munisipale bestuur. Die oord is veilig omhein van die straat en die see. Daar is ook 24 uur sekuriteit by die hek.
Die badkamers is ou-styl, maar skoon en alles is in ‘n werkende toestand. Hoewel daar tydens ons besoek nie wasmasjiene of tuimeldroӫrs was nie, was daar genoeg wasgeriewe vir wasgoed en skottelgoed. Daar is ook goed beskermde wasgoedlyne naby die badkamers.
Elke staanplek kry sy eie groot asblik. Daar is ook kragpunte vir elke staanplek en braaiers wat van steen gebou is, is verspreid deur die park beskikbaar. Die krane is op strategiese plekke deur die park geplaas.
Die park het heelwat bome, hoewel ons dit nou nie as boomryk sal beskryf nie. Die wind kan jou natuurlik onkant vang. Dit is seker ook die rede hoekom die strook teen die see nie eerste volbespreek is nie, maar karavane verspreid geparkeer is tydens ons besoek.
Trappies lei jou vanaf die hek tot op die strand, enkelle meters weg van waar die branders breek. As jy eers op die strand is, is dit 'n pragtige lang strand waar jy vêr kan gaan stap. Daar is ook genoeg voӫllewe om jou stappie interessant te maak. Ons was gelukkig om swart tobies met hulle kleintjies daar te sien.
Net buite die kampterrein begin die paadjie wat deur Lottoland geborg is en al kuslangs loop tot by die hoofstrand.
Die dorp het alles wat die gewone mens nodig het. Daar is 2 groot inkopie-sentrums sodat die gewone vakansie-ganger alles hier vind wat nodig is. Langs die hoofstrand is ‘n pragtige gedeelte met pretpark, vele restaurante en plekke met wegneem-etes.
Jeffreys verdien sy plek as ‘n top bestemming vir ‘n see vakansie.
Nota: Ons het die park in Maart 2025 besoek






















Comments