top of page

Staan oor by Red Sands Lodge




Daar is min mense wat nog nie by Red Sands gestop het wanneer hulle pad tussen Johannesburg en Upington aangedurf het nie. Die rede is dat Red Sands presies daar geleë is waar jy jou smaak vir die langpad verloor. Dit is 30 km verby Kuruman oppad na Upington geleë (as jy nou vanaf Johannesburg se kant af ry natuurlik).

Ons het voorheen by hulle privaat staanplekke oorgestaan. So ‘n staanplek bied jou ‘n kombuisie en jou eie badkamer.

Met ons meer onlangse stop daar, het ons op een van die gewone staanplekke gestaan. Rooi sand is meer as volop (hoe dan anders?!). Dit help baie dat die braaiplek ‘n wasbak het, en ‘n muurtjie agter die braai jou van jou buurman skei. Behalwe dat jy nou verder na die badkamer moet stap, is die gewone staanplekke meer as voldoende as jy slegs daar gaan oorstaan vir ‘n nag of twee.

Einde April was die swembad baie fris, maar met die temperatuur op 30 grade vir die dag, was dit ‘n goeie lafenis. Langs die ontvangs gedeelte is daar ‘n restaurant. Die kamp het ook konferensie fasiliteite en beslis die opsie om groter groepe te ontvang.

Red Sands het ook ‘n opsie van selfsorg vir diegene wat nie wil kamp nie.

Plaasdiere loer gereeld by jou staanplek in : eers die perd en sy ponie maatjie, dan die skaap gevolg deur die lamas. Die badkamers is skoon en meer as voldoende. Daar is ook onderdak plek langs die badkamers om jou skottelgoed te was.

Die plaas het volop plek om te stap of te draf, en ’n hele paar roetes is deeglik gemerk.

Die area kan baie dor voorkom, maar die ligging daarvan is alles.


Ons deel 'n paar foto's:

Die gesamentlike badkamers is netjies en meer as voldoende









Die privaat staanplekke het hulle eie badkamers


Die gewone staanplekke het 'n muurtjie met werksplek en 'n braaiplek wat hulle van mekaar skei




Waar nie gras is nie, is rooi sand






Die windpomp op die kop kan van ver gesien word



Die hoofgebou en swembad is pragtig




Waar is Red Sands?

30 km verby Kuruman oppad na Upington op die N14

Webwerf en besprekings



Post: Blog2_Post
bottom of page