top of page

Twee Rivieren - die poort na die Kgalagadi

Updated: Jan 1



As jy al in die Kgalagadi was, is die kans baie naby aan 100% dat jy deur Twee Rivieren gereis het, of daar oorgeslaap het. Om hom uit Suid-Afrika te bereik, ry jy 250km noord vanaf Upington op ‘n baie skaflike teerpad.

Hierdie kamp is die suidelike hek van die wildtuin, en so ook die hoofkwartier van die wildtuin. Daar is verskeie opsies met akkomodasie en ons het weer die kampeer opsie met ons Bushwakka gebruik.

Die hele kampeer area is bedek met die rooi sand van die omgewing. Elke staanplek het ‘n braaier, blousok kragpunt (tensy jy die staanplekke kies waar daar nie krag is nie), en dan deel elke twee staanplekke ‘n asdrom en ‘n kraan.

Die hoofhek van Twee Rivieren (en die suidelike ingang na die Kgalagadi) is redelik naby, maar hy maak saans toe, dan is dit stil. Die gedeelte teen die pad het paaltjies teen die heining, dus geen gepla van voertuie nie.



Die ablusies bestaan uit uit die gewone wasbakke, toilette, en storte. Daar is ook ‘n opwas gedeelte en wasgoedlyne. Dit word baie netjies gehou, hoewel al die deure by die storte tydens ons besoek nie goed toegemaak het nie. Die storte het ‘n gedeelte om jou klere te laat en dan ‘n aparte storthokkie.

Die water by die krane is bruikbaar, maar is brak en ons het ons eie water vir drink en koffie/tee gebruik.

Die kamp het ‘n pragtige swembad en kuierarea om die swembad.



Die winkel is het al die voorraad wat mens in ‘n park sal opsoek. Daar is vanaf die gewone aandenkings en boeke, ook die basiese kruideniersware en toiletware. Kredietkaarte word aanvaar. Dit is ook die enigste winkel in die park wat roomys verkoop (baie belangrik vir soettande soos ek!)

Die vulstasie kon ons help met diesel, terwyl petrol ook beskikbaar is. Daar is ook ‘n pomp om jou banddruk reg te kry vir die wildtuinpaaie. Die voorgestelde druk is 1.6 bar vir voertuie, 1.2 bar vir sleepwaens en 2.0 bar vir karavane. Dit is nie net vir ‘n goeie rit nie, maar rig ook minder skade aan die paaie aan.

Hoewel ons nie daar geëet het nie, het Twee Rivieren ook ’n restaurant.

Die kamp het geen beurtkrag nie, en die selfoonopvangs is meer as voldoende.

By die hek van die park is daar ‘n toonbank vir die Botswana parke, doeane en polisie fasiliteite ( jy kan deur die park reis na Namibia, maar moet 2 aande in die park spandeer om daardie fasiliteit te gebruik).

Wat wel NIE by die hoofkamp (of ander kampe) is nie, is mediese nooddienste. Ek het my kop baie erg gesny met ‘n stamp en met Ronel se navrae is ons na Van Zylsrus verwys wat meer as 50 km suid van die park is. Baie gebede en die knap werk met Superglue van Suster Van Wyk het ons ‘n lang rit gespaar!


Ons deel 'n paar foto's:

Die oggendstond het goud in die mond volgens die gesegde

Die bekende ingang


Die kantoorkompleks by die hek, met toegangbeheer, SAPS en Botswana amptenare


Jy parkeer hier wanneer jy die dag aankom



Besprekings

Hoe kom jy daar?

Ry 250 km noord vanaf Upington

Kan jy hier aankom vanaf Namibia?

Ja, maar jy moet 2 nagte in die Kgalagadi oorbly. Kom dan deur die grenspos by Mata Mata

Waar kom die naam vandaan

Natuurlik die twee riviere, Nossob en Auob wat hier naby saamvloei (as dit nou die dag reen!)


Post: Blog2_Post
bottom of page