top of page

Riemvasmaak = ongenaakbare natuurskoon

Updated: Jul 8, 2023




Ons besoek aan Riemvasmaak vertrek vanaf Kakamas. Daar is 2 paaie vanaf Kakamas na Riemvasmaak: vanaf die suide verby Augrabies Nasionale Park, en vanaf die Ooste deur die afdraai te vat net Noord van die Oranje op die N14.

Die pad verby Augrabies vat ons verby pragtige vrugteboorde al langs die Oranje. Tot waar ons afdraai om Noord te draai is dit ‘n pragtige teerpad. Tot ons verbasing is dit steeds teerpad nadat ons Noord gedraai het. Die landskap verander en skielik sien mens pragtige klipkoppe voor jou. Na so rukkie daal die pad in die rigting van die Oranje.

Teen die Oranje is daar pragtige vrugteboorde. Ons volg die pad vir 'n kilometer, en draai dan regs na die enkellaan brug oor die Oranje. Aan die oorkant van die Oranje is ‘n klein dorpie, Vredesvallei. Net buite Vredesvallei verander die pad vinnig : hier gaan jy nie die GPS se voorgestelde spoed handhaaf nie! Die 30 kilometer na Riemvasmaak gaan langer as 30 minute duur!

Elke kilometer raak die pad nouer, totdat nie meer as ’n tweespoor is nie. Dis tyd om die bakkie na vierwielaandrywing oor te skakel, om onnodige skade aan die bande en die pad te verhoed. Ons styg en daal ‘n paar keer behoorlik. Intussen besef ons die voorreg om tussen die klipkoppies te ry. Ons kom later by ‘n t-aansluiting, en draai dan regs. ‘n Paar kilometer verder is daar ‘n klein afdak langs die pad wat beteken dat ons hier kan uitspan vir ’n paar minute. Dit is ’n asemrowende uitsig hiervandaan.

Sowat 2 ure nadat ons die paadjie geneem het, ry ons die Riemvasmaak omgewing binne. Ons word verwelkom deur ’n spannetjie klipverkopers. Die klippe wissel in grootte, vanaf ’n albaster tot ’n appel se grootte. Die kleure wissel van wit, tot pienk, blou en groen. Die groene is blykbaar die éen wat mens in die vuur moet gooi. Ons probeer ‘n paar dae later, en inderdaad gee die klip ’n vuurwerkvertoning in die kleine.

Die afdraai na die warmbron is na regs, aangedui as 2 kilometer. Nog ‘n man keer ons voor, en bied ‘n pakkie houtjies aan om te verkoop : watse hout? “nee meneer dis maar die houtjies hier uit die koppe”. Prys? ‘meneer, dit kos so 20 of 30 Rand’(hy wil darem nie ‘n winsie op die tafel los nie!)

Ons stop by ‘n uitsigpunt waar die kloof en fasiliteite mooi voor jou lê. Dan ry mens die laaste paar honder meter ‘n styl afdraand wat deels ‘n sement oppervlakte pad het. Uiteindelik is ons onder, en sien die selfsorghuisies tussen die klippe. Dit moet lieflik wees om hier ‘n dag of wat te spandeer! By die bronne se ontvangs betaal ons toegang (R75 per persoon as ek reg onthou). Daar is parkering vir sowat 6 voertuie, maar vandag is hier net 1 ander voertuig van gaste omdat die langnaweek pas verby is. Ons stap die 100 meter na die bron, en neem stoele en ons piekniek ete saam. Die ander gaste kuier rustig in die warm water van die bron. Hulle beduie ons dat ’n entjie verder daar nog ’n swemplek in die warm water is. Ons gaan stel ondersoek in, maar besluit dat hulle maar die spasie saam met ons moet deel: die water is glad te koel in Mei maand om dit as warm te beskou.

Die bron het ‘n reghoekige badjie waar die water warmer is, en dan oorvloei in die ronde badjie wat bietjie koeler is. Ons ontspan so uur daar, voordat ons die pad terug die kop uit aanpak.

Nou is dit tyd om die ander pad na Kakamas te probeer. Die pad volg deur die dorpie, wat baie netjies is. Daar is ‘n paar honderd inwoners, maar nie veel plek waar mense kan werk nie. Die pad is netjies geteer en die dorpie is baie netjies. Net buite die dorpie kry ons die padstal/koffiewinkel Berg en Dal wat aan Norbert van Voetspore behoort. Ons het gelees dat die Voetspore span die vorige naweek na Suid-Amerika vertrek het, en die koffiewinkel is gesluit. Twee seuns nader ons om nog klippies te koop “om te betaal vir die elektrisiteit sodat hulle nie so moet sukkel met die loadshedding nie”.

Dan volg die pad grondpad terug na Kakamas, wat op plekke sinkplaat is, maar meer rybaar is teen die GPS spoed as vanaf die suide!

Terug by die Mas braai is dit tyd vir kampvuur, en toets die Riemasmaak klippie wat ‘n kleine vuurwerkvertoning aan ons bied!



Vanaf die Suide kruis mens die Oranje met 'n enkellaanbrug naby die dorpie Vredesvallei


Die benede Oranjerivier se oewers is behoorlik toegeplant met Druiwe en Sitrus. Besproeing is die sleutel tot Boerdery sukses in hierdie geweste


Die GPS vertel my net buite Vredesvallei dat die 30 minute tot by Riemvasmaak is. Dit neem my dan 90 minute, waarvan elke minuut die moeite werd was



​Die pad gee reg aan die gebruik van 'n voertuig se 4x4 werking


Ons was die enigste voertuig op die pad vanaf Vredesvallei


'n Aftrekplekkie, met asemrowende uitsig oor die klip omgewing




Die warmbron is in die loop van die Molopo gelee


Dit moet besonders wees om 'n dag of wat in een van hierdie selfsorghuisies te spandeer


Die ingang voordat mens die afdraende vat na die warm bron


Parkering en betaling is hier by ontvangs. Die bron is 100 meter se stap met die voetpad aan





Die warm water loop in die reghoekige swembad in, en vloei dan oor na die ronde swembad


Beauty and the Beast kyk hoe jy swem


Die groen klippie sorg vir vuurwerke as jy hom in 'n vuur gooi


By Berg en Dal koffiewinkel is Norbet afwesig, maar die kinders kan aan jou klippies verkoop



Soos die kraai vlieg, is Riemvasmaak 30 km noordwes van Augrabies. Dis 'n wonderlike trippie, maar tannie GPS is 'n liegbek hier!



Post: Blog2_Post
bottom of page