top of page
Writer's pictureHeinrich van Wyk

'n Ander soort kamp by De Pakhuys agter die berg by Clanwilliam


Om by De Pakhuys uit te kom, ry ons na Clanwilliam, en ry oor die Pakhuyspas (wie sou nou kon raai!). 'n Paar kilometer na die pas, kry ons die afdraai na De Pakhuys vakansieplaas, regs van die pad.

Met ons aankoms by die kampplek is ons onseker oor waar om op te slaan. Daar is 'n kantoor, maar geen personeel. Een gas dwaal daar rond en sê dat sy eintlik opsoek is na ekstra komberse. Sy is deel van n groep jongmense wat in een van die houthuisies tuisgaan. Ek bel Thys. Hy sê ons kan maar opslaan waar ons plek kry.


Daar is n paar houthuise, ablusiegeriewe, ‘n saal met kroeg, en 'n klomp bloekombome verby die kantoortjie. Aan die regterkant is 'n groot oop stuk grond, paar bossies en wat voel na honderde rotse agter hulle.

Ons kies 'n staanplek naby die saaltjie, reg oorkant die ablusies. Ons moet gou maak met opslaan, want die reën gaan enige oomblik begin val. Nadat ons kamp opgeslaan is, loer ons in by die saaltjie. 'n Klompie gaste het hulle beddens daar ingepas en dit omskep in hulle blyplek. In die kroegie vind ons 'n elektriese muurprop en skakel die karavaan se krag aan. Later die aand is ons baie dankbaar dat ons die elektrisiteit kan gebruik vir ons verwarmer. Dit is yskoud hier teen die berge aan die einde van Augustus.


Gelukkig is daar nie 'n toeloop van mense na die kroeg toe nie, en dit is eintlik rustig. 'n Paar jongmense woon in die saaltjie en ander in tente. Ons leer deur die naweek wat Bouldering beteken. Dit lyk eers komies as hulle die pad van na die rotse met iets wat soos ’n matras lyk op die rug. Later vind ons uit dat hulle nie uit die clan geskop is nie – die matras is hulle langdingsplek as bouldering verkeerd gaan.





Ons vuur word sommer op die grond gemaak. Die ablusies het toilette, wasbakke en storte. Die water word warm gemaak met 'n donkie. Die ablusies is kunstig teen die rotse gebou, met sommige mure wat deur die rotse gevorm word.

Later deur die naweek stap ons die 1.5km roete na die Waterval. Dit is goed gemerk en beslis ‘n besoek werd.



Tussen ons kamp en die Waterval, kruis ons pad die verblyf van die “storytellers” waar mens ‘n paar dae kom bly om jouself te vind.



Dis duidelik dat jy jouself baie vinniger vind in hierdie unieke, rustige omgewing. Tussen rus, bouldering en kuier met maters vind jy jouself maklik hier.

Sal ons terugkom?: Nie ‘n besliste JA of NEE nie. Ons het die geniet, maar dink daar is plekke wat meer in ons kraal pas in die omgewing.

Kommentare


Post: Blog2_Post
bottom of page