top of page

Mees unieke kampplek in Suid-Afrika


Ek hou al baie lank sosiale media en ander plekke dop vir inligting om die Namakwa Nasionale Park. Met ons Augustus 2021 Namakwaland toer, het ons daar n draai gemaak.

Ons bespreking was vir 2 nagte, maar ons moes dit verander na 1 nag omdat die baie gereën het op Springbok en ons nie die lang grondpad in die reën wou aanpak nie.

Dit was n jammerte dat ons nie langer daar kon staan nie, maar ook n goeie besluit om die pad.

Die eerste dag van ons bespreking (toe nog op Springbok) kry ons n oproep van Zander by die Groenriviermond kantoor van Sanparke. Hy wil weet of ons oppad is. Ek verduidelik en hy beduie ook sommer die pad vanaf Garies.

Saterdagoggend is ons oppad na die park. Ons het nie ver gery nie, toe bel Zander weer. Hy wil net seker maak ons is oppad, en maak weer seker dat ons die regte pad vat. Met Zander se aanwysings, die Hilux se GPS en die Garmin op Groenriviermond gestel, draai ons weg by Garies. Later is ek dankbaar dat ek wel my diesel aangevul het op Garies, en Ronel stop by die slaghuis en koop maalvleis wat beslis van skaap gemaak is.

Ons ry deur Garies, verby die hospitaal en draai dan regs op die pad na Groenriviermond. Zander het beklemtoon dat ons moet uitkyk vir ‘n laagwaterbruggie. Dan weet ons dat ons op die regte pad is. Vorentoe draai ons regs, waar daar te draaie is. Plek-plek gly die Hilux en Bushwakka deur die modder, maar die vele landskappe van blomme om ons maak die rit n groot plesier.



Na 70km kry ons Groenriviermond se hek met kantoor aan die regterkant. Ons twyfel eers (die GPS’se wys die kampplek reguit vorentoe). Ons besluit om wel kantoor toe te ry. Ons teken in, gebruik ons Wildkaart en ontmoet Zander. Sy kollega vertel dat ons die volgende dag suid teen die kus kan ry tot in Lutzville.

Vanaf die kantoor is dit terug na die pad waarmee ons ingekom het. n Klein entjie verder verskyn Groenrivermond met sy flaminke voor ons. Die pad draai suid, en nadat ons by die dagbesoekersterrein verby is, kry ons die kampplekke. Al 15 van hulle is op n ry teen die see af uitgelê. Elkeen bestaan uit n put toilet sonder n dak, en vuurmaakplek met n netjiese wind skuiling om dit gebou. Verder is daar niks, maar alles: Die see van voor, die wind van links, die blomme van agter en die sterre in die aand van bo.

Direk na staanplek 15, volg die vuurtoring van Groenrivermond met sy kantore. Die hele kompleks by die vuurtoring is omhein.



Ons besef ook dat hierdie die mees suidelike punt van die Namakwa Nasionale Park is. Die ander kampplekke is Noord van die kantoor geleë. Zander het verduidelik dat daar 2 plekke is waar die sand baie dik is, maar verder is die pad noord na Hondeklipbaai rybaar.

Ons maak vuur binne die ringmuur wat daarvoor gebou is. Ten spyte van die koue wind, is dit heel aangenaam binne die muur. Die muur werk beslis om die natuur-elemente te trotseer.




Die volgende oggend vat ons die pad suid. Dit is letterlik n tweespoorpad tot by Kraai se baai. Plek-plek raak die pad breëer, maar dan is daar sinkpad. Daar is 'n waarskuwing teen dik sand vir so 5 km, maar niks ernstig nie. Ons ry verby die kampplekke van Waterval teen die kus. Hulle is goed gemerk, maar behalwe 'n enkelle braaiplek of so, is daar nie veel geriewe nie.

Die blomme is ongelooflik en ons geniet die rit terdeë.





Met ons aankoms by Brand se baai, neem die GPS ons binneland toe. Ons twyfel baie sterk watter pad, maar kom dan agter dat dat ons deur die soutwerke ry en daarvandaan na die grootpad. Verder suid sou ons eers Brand se baai kry en dan binneland toe na die teerpad na Lutzville. Terugkom? Beslis!



Post: Blog2_Post
bottom of page