top of page

Mata Mata, ons gunsteling Kgalagadi kamp



As mens die ligging van die Mata Mata kamp in ag neem (reg wes teen die Namibiese grens), verwag jy dat dit so bietjie van ‘n Wilde Weste kamp sal wees. Alles behalwe!

Hierdie kamp het die heel vriendelikse en hulpvaardigste personeel in die ganse Sanparke. Ons administrasie by ons aankoms was in minder as ‘n minuut, en met ‘n glimlag gedoen. Die kamp is Kleiner as die ander groter kampe en gee ‘n nuwe werklikheid aan die woord "spotless".

Die staanplekke is baie slim rondom die bome uitgelê. Al die staanplekke het hul eie braaiplekke en dan deel elke 2 plekke staanplekke 'n kragpunt, asdrom en kraan. Daar is natuurlik geen gras nie, en om jou tentpenne lekker vas te kap is ‘n goeie oefensessie met ‘n rubberhamer.

Die ablusies is meer as voldoende, pynlik skoon en bestaan uit die gewone wasbakke en toilette, met storthokkies wat by sy ingang plek het om jou klere droog neer te sit, en dan die stort agter ‘n gordyn. Tussen die mans en vroue gedeelte is dak oor, wat ‘n koel effek gee. Onder dieselfde dak is plek vir skottelgoed en klere was en wasgoedlyne agter die ablusies. Dit beskik ook oor ‘n gesinsbadkamer met ‘n bad.



Die swembad is naby die ablusies gebou, en was in Mei net die plek om heerlik af te koel na ‘n lang motor rit.


Elektrisiteit word deur ‘n kragopwekker verskaf wat vanaf 05h00 soggens tot 22h00 saans loop. Selfoonopvangs vanaf Suid-Afrika bestaan glad nie, maar daar is wel opsies:

Met ‘n bietjie geluk kan ‘n die sein opvang van die Namibiese toring en via Namibia met jou mense gesels ( daar is seker so ektra sent of wat by jou rekening).

Dan kan jy ook wifi bewyse by die winkel koop. Dit behels ‘n papiertjie met gebruiksnaam en wagwoord om jou op die park se wifi te laat inskakel. Ons het R75 vir 400 Mb betaal wat genoeg vir meeste mense oor 18 se Whatapp boodskappe is.

In die een hoek van die kamp is ’n skuiling by ‘n watergat gebou. Ons was nie gelukkig om baie wild daar te sien nie. Oorkant die watergat is die meer luukse chalets gebou, wat ‘n opgradering is van die ouer chalets wat elders in die kamp staan.

Die winkel verkoop die nodigste produkte wat jy gaan benodig, maar a.g.v. die ligging en die kragopwekker wat nie 24 uur per dag loop nie is hulle vars produkte beperk. Die petrol en dieselpomp het genoeg voorraad tydens ons besoek gehad om na die dors van al die voertuie in die kamp om te sien.



Die polisie is ook by Ontvangs verteenwoordig, en kan help met jou vertrek na of aankoms uit Namibia. ‘n Valhek dui die oorgaan na Namibia aan, waar die Namibiese beamptes wag om jou vars produkte af te vat, sou jy dit wil saamneem (maar dit is seker ‘n storie vir ‘n ander dag!)

Langs die Ontvangskantoor is ‘n Roofvoël uitstalling en boekversameling vir belangstellendes. Hoewel die ligging van die kamp beteken dat jou wildkyk roete altyd op dieselfde pad uitgaan en terugkom, is daar volop roofvoëls teenwoordig wat jou gedurig aan die rondkyk hou.

Ek en Ronel het besluit dat hoewel Nossob die meer gewilde kamp is, Mata Mata hom met ’n kortkop wen om ons gunsteling kamp in die Kgalagadi te wees.








Die ablusies is pynlik netjies







Behalwe dat vars produkte skaars is, sal jy met meeste items geholpe raak by die winkel. Jy kan ook 'n dag vooruit 'n vars brood bestel.





Agter die valhek is Namibia!







Roofvoël uitstalling, lae reenval en kaarte met ongewone diere laat jou besef dat jy nie by 'n gewone plek uithang nie.



Lang afstande, name wat jy nie aldag sien as jy aan Gauteng of Kaapstad gewoond is nie


33 views0 comments
Post: Blog2_Post
bottom of page