top of page

Highlanders is baie meer as 'n rusplek langs die N7



Ons besoek aan Highlanders was ietwat onbeplan. Eers was die Gifberg gasteplaas nie toeganklik vir karavane nie, en daarna het kon ons nie die plek by Vredendal opspoor wat ons alternatief was nie.

Ons het Highlanders op Google opgespoor en Mike geskakel. Hy het sommer dadelik geantwoord dat hy kan help met 'n staanplek. Ons ry 14 km van Klawer op die N7 na Clanwilliam, draai links by Trawal en dan dadelik regs vir 2 km op 'n grondpad.


Die kampplekke is ruim en netjies


Dit wil voorkom of "Overlanders" en ander reisigers tussen die Wes-Kaap en Namibia die grootste mark vir Highlanders is. Daar is 4 staanplekke, waarvan 2 in gebruik is, spesifiek ingerig vir ’n groot voertuig se parkering en baie spasie vir Kleiner tente op die gras.

Ons staan egter bo op die terras waar 2 lieflike staanplekke vir gewone karavaan ingerig is. ’n Klein afdak bevat die kragpunt, n werksoppervlakte en n wasbak. Die 2 staanplekke deel hierdie fasiliteit en so ook die boma vir jou kampvuur. Daar is wel n draagbare braaier beskikbaar as gaste dit so sal verkies. Op die tussen-in terras is daar 4 luukse staanplekke. Hulle het elkeen hul eie afdakkie en is omring met mure van riete. Dit sal bietjie meet en pas kos om daar n gewone karavaan in te pas. ‘n Sleepwa of gewone voertuig pas maklik daar.

Aan die boonste vlak van die terrain is daar n kroeg wat ook n buite kuier-area bevat. Die swembad langsaan is spliternuut en mooi skoon vir die somer. Langs die swembad is n lodge gebou van 12 kamers op n ry. Hulle het nie nommers nie, maar elkeen se naam verwys na wyn soos Pinotage of Merlot (dit kan komies wees as jy laataand jou maats moet opspoor!)


Die lodge is baie netjies


Elke kamer is na wyn vernoem en het 'n netjiese stoepie voor hom


Die kamers is meer as voldoende


Die kuier-area by die lodge is baie verwelkomend


Die lodge het ook 'n onderdak area en braaiplek


Die swembad is splinternuut en pragtig


Die badkamers het ‘n sonverwarmer, maar ons het ook in die oggend warm water gekry. Dit is by verre die skoonste badkamers wat ons by enige karavaanpark teegekom het. Die storte het nie glas in die vensters nie; dus voel mens amper dat jy buite stort met die uitsig oor die vallei. Elke storthokkie het ‘n deur, ‘n behoorlike aantrekgedeelte met bankie en hake en dan die stort langsaan met sy mooi uitsig. Daar is geen trek van wind nie, en dus glad nie koud in die stort nie.


Die storte het oop vensters en pragtige uitsigte


Hoër teen die bult loop die waterkanaal van die Olifantsriver besproeingskema. Dis deels die rede dat hierdie area behoorlik benut word en elke moontlike vierkant meter word bewerk.


Die enigste nadeel van die park is dat die N7 bokant teen die koppe verbygaan. Soos wat die aande stiller raak, raak die verkeer meer hoorbaar. Met ons besoek het die (Covid) klokreël vanaf 22h00 gegeld en die nagte was baie stil. In meer gewone tye kan dit ietwat van n iritasie wees.


Ons het vir 3 nagte gestaan, want dis baie sentraal om Klawer, Vredendal, Strandfontein, Vanrhuynsdorp en dies meer te besoek. Dit is egter meer 'n oorslaapplek as 'n bestemming.


Highlanders is 'n baie goeie voorbeeld van 'n kampplek waar die eienaar self betrokke is en die omgewing goed ken. Mike het ons 'n pragtige pad beduie om na Doringbaai te reis.


Ons sal beslis die park graag weer besoek.


Belangrike Inligting

Webwerf

www.highlanderssa.co.za

Kontaknommer

082 958 4184

Waar

Baie naby aan Trawel, sowat 24 km suid van Klawer teen die N7


Post: Blog2_Post
bottom of page