top of page

Gaan wild by Sodwana

Ons kamp vanaf 11 Junie tot 14 Junie by die KZN Wildlife kamp van Sodwana baai. Dit is massiewe kamp van meer as 400 staanplekke, met so 60 wat kragpunte het.

Dit is doodstil by ontvangs toe ons om 16h00 daar aanmeld. Hulle het vir ons plek met n kragpunt teen R600 vir die 3 nagte. Nommer C116 is ons nommer.

Na n bietjie gesoek kry ons nommer C116 met kragpunt. Dit is n staanplek onder n massiewe boom/bos. Geriewe is redelik min, maar ons staan. Die indruk van die park is so kombinasie tussen "alles is daar" tot die "Wilde weste", met ander woorde ONGEREP.


Die KZNWildlife kampering het baie bome en bosse. Verder is dit sommer naby aan die see


Die ablusies voldoen aan die basiese vereistes, en tans is werkers besig om verf aan te wend. Die water is warm, die deure maak nie mooi toe nie, maar alles is werkbaar en word daagliks skoongemaak.

Ons bure oorkant die pad is daar vir visvang met n reuse boot, trekker en plaaslike man wat kamp oppas. Hy wil iemand bring om ons kamp ook op te pas, maar ons wys dit van die hand, want sy oppas help nie juis vir die bure nie. Mens kry op baie plekke in die land apies wat stout is, maar Sodwana se apies is die res van die land se apies voor. Hulle is vrekstout!

Die bure speel baie musiek, maar dit pas in ons smaak, so dis aanvaarbaar!

Met ons besoek is dit behoorlik buite seisoen en mens kan verstaan dat die kamp nie mooi in stand gehou word nie. Tog kry ons ook nie die indruk dat die kamp ander tye baie aandag geniet nie. Die meeste van die staanplekke is maar n gat in die bos. Baie daarvan is skuins, sonder bome en Meestal net sand.


Ons staanplek het 'n lekker boom gehad. Volop koelte vir die warm dae en volop speelplek vir die apies


Die een gedeelte, Gwalagwala is bietjie beter afgewerk by die staanplekke. HIerdie gedeelte het ook n braaier, kraan, lig en kragpunt by die staanplek. Dus is dit Sodwana Luuks.

Buite die kamphek is daar n winkel wat alles bevat wat n kampeerder nodig het vir sy verblyf. Die winkel is boonop billik geprys.

Daar is ook brandstof by die hek beskikbaar.

Binne die kamp is n gedeelte wat aan Coral Divers behoort en hulle kamp/basis is vir hulle duik.

Hierdie is nie 'n kamp waar mens vir 3 weke gaan staan en dan by jou staanplek rus en braai nie. Dit is wel genoeg as mens dit gebruik waarvoor jy na Sodwana kom: om vis te vang en te duik.


Belangrike inligting

Webwerf

www.kznwildlife.com/sodwana.html

Telefoon nommer

035 571-0051

E-pos

sodwana.reception@kznwildlife.com


14 views0 comments
Post: Blog2_Post
bottom of page