top of page

Dimalachite River Lodge is n voëltjie van ‘n ander kleur!

Ons besluit om so saam met die eerste somer reëns van 2022 Parys toe te gaan. Nadat ek saam met my werk jare gelede ‘n spanbou by Dimalachite River Lodge gehad het, is dit ‘n goeie plek om ‘n slag te gaan kampeer.

Na minder as 2 uur se ry vanaf Centurion, ry ons deur die rustige Vrystaatse dorp, Parys. Net buite die dorp is die golf landgoed, Vaal de Grace en kort daarna draai ons regs na Dimalachite. Die laaste 5 kilometer is grondpad, maar heeltemal rybaar met ons Hilux en Buswakka (daar is ‘n alternatiewe pad vir sedan motors).

Nadat ons die finansies afgehandel het, slaan ons op by nommer 39 in die karavaanpark.


Ons staan reg teen die Vaalrivier.



Daardie deel is meer vir kampeer, en verder aan is meer vir visvang. Die kampeergedeelte is by vlakker water, en die visvang gedeelte dan by dieper water. Deur die loop van die naweek hoor ons gereeld hoe die visalarm skree en manne hardloop om nog 'n grote in te kartrol.





Dit is Oktober en die gras is groener as lowergroen. Die kamp is werklik pragtig versorg. Die lys van aktiwiteite is lank : wildritte (of stap), voëlkyk, visvang, Put-put, verfbal skiet (Paintball target shooting), Jacuzzi, Springmatte, skaak, speelpark, swembad en dan vir die avonturiers is daar wit water roei op die Vaalrivier (’n oggend trip van 4 uur, en ’n korter een in die middag).










Ons sien springbokke, zebras, gemsbokke, baster-gemsbokke, rooi hartbeeste en koedoes in die wildkamp.










Behalwe kamp, is daar chalets, lodges en jeugkampe. Ons het destyds by ons spanbou groot pret gehad met “survivor”speletjies, potjiekos en die uitdaging om oor warm kole te loop.

Al die fasiliteite is werklik in top kondisie. Die badkamers wat ons gebruik het, is lank voor verlede jaar gebou, maar werk en is skoon.

Ons ry drie dae later uitgerus terug huis toe, en beplan dadelik aan ons volgende kamp.



Post: Blog2_Post
bottom of page