top of page

Die middel van die Kgalagadi - Nossob

Updated: Jan 8



Uitsig op die watergat


Die Nossob kamp is min of meer halfpad tussen Twee Rivieren en die Namibiese grens geleë. Neem in ag dat Botswana net oorkant die Nossob river geleë is, en dan verstaan jy die gevoel dat hierdie kamp die middelpunt van die wildtuin moet wees.

Dit is dus geen verrassing dat jy bykans geen kans staan om ’n bespreking by Nossob se verblyf te kry nie. Op die eerste dag wat ons kon bespreek vir Mei 2023 (dis nou 11 maande vroeër), was ons gelukkig om kampplek vir 2 nagte te bekom.

Ons word by ons aankoms flink gehelp en kort daarna soek ons ‘n geskikte kampplek. Soos die ander kampplekke in die Kgalagadi, het Nossob se staanplekke ook ‘n braaier, en dan gedeelde kraan, kragpunt en asblik. As jy wonder hoekom die asblikke op pale staan, stap net laataand deur die kamp en let op hoeveel jakkalse draf deur die kamp om iets te aas. Die staanplekke is slim tussen koeltebome uitgelê.


Die kampplekke is slim uitgelê tussen die bome

Die kamp het minder grond en meer sand as Mata Mata, en jou tentpenne se inkap is nie ‘n volle oefensessie nie.

Elektrisiteit word verskaf deur ‘n kragopwekker wat vanaf 5 in die oggend tot 10 in die aand hardloop.

Nossob is die enigste Kgalagadi kamp met ”premier” staanplekke. Dit is verder van die hoofdeel van die kamp, maar baie goed uitgelê. Die bome en bosse rondom gee die inwoners ‘n gevoel dat hulle in die wildernis staan. Elke staanplek het sy eie badkamer met kombuis, braai en kragpunt. Hulle is heelwat groter as die gewone staanplekke sodat verskeie van hulle deur 2 woonwaens gebruik is.


Die primier staanplekke is groot

Die premier staanplekke het hul eie wasbakke en badkamers


By Nossob is daar geen teken van enige sein op jou selfoon nie. Teen laatmiddag gaan sit die duiwe by die watergat, en die inwoners rondom Ontvangs of die winkel om met hulle wifi bewyse via Sanparks se netwerk hul whatsapp boodskappe te beantwoord. Teen R75 vir 400 Mb, kan jy die nodige kommunikasie doen, maar vergeet liefs van videos en "facetime”!


Jou sleutel tot die buitewêreld - die Wi-Fi bewys

Die winkel verkoop die nodigste produkte, maar omdat aflewerings van vars produkte slegs op Dinsdae is, moet jy nie daar instap met enige verwagting van vrugte en groente nie. Die Dinsdag aflewering word vinnig uitverkoop, maar later in die week sal daar nog aartappels en uie wees om jou biefstuk mee af te sluk.

Die badkamers is onlangs oorgedoen en word netjies skoongehou. Daar is die gebruiklike toilette, wasbakke en storte. Die storthokkie het ‘n gordyn, sodat jy jou klere droog kan laat op die bankie. Die gang tussen mans en dames is onderdak, met plek vir klere en skottelgoed wasplekke onder dieselfde dakkie. ‘n Gemeenskaplike kombuis loop ook  uit die gang uit. Aan die agterkant van die ablusies is daar ‘n wasgoedlyn.



Die badkamers is pynlik netjies





Die petrol en dieselvoorraad was meer as voldoende met ons besoek, selfs nadat die padskraper ‘n volle 350 liter gesluk het.

Een van die nuwe verbeteringe is ’n nuut geboude skuiling by die watergat. Dit gat is ook in die nag verlig. Ons het gevind dat die diere maar baie versigtig daar kom drink. Ons hoogtepunt was nie hoe die diere gedrink het nie, maar die trop van by die 100 springbokke wat verby geloop, gedraf en gepronk het.

Die kamp is baie bekend vir sy inwonende uile. In die een boom het ons daagliks 2 nonnietjies uile gesien, en in die ander boom ’n skopsuil. Hulle het elke dag daar kom rus na hulle nagtelike jagtogte. Neffens die ontvangstoonbank is ‘n uitstalling van roofdiere en aasdiere wat in die omgewing voorkom.

By Nossob se een hek ry mens in ‘n suidelike rigting terug na Twee Rivieren, en as jy by die noordelike hek uitgaan, in die rigting van Unie einde. Jy hoef dus nie met elke wildrit op dieselfde paadjie te ry nie.

Die 4x4 roete na Bitterpan vertrek ook uit die Nossob kamp, maar slegs bespreekte gaste van Bitterpan mag hierdie eenrigting roete gebruik.

Die 4x4 roete na en van Mabua in Botswana begin of eindig net noord van Nossob. Die Nossob 4x4 roete se begin of einde is ook net Noord van die kamp geleë. Soos gesê: die kamp is behoorlik die middelpunt van die park!


Nie veel gras om die swembad nie, maar hy koel lekker af!

Die afstande is lank in die Kgalagadi

Die gerieflike skuiling by die watergat is nuut

Hou jou bankddruk dop!


Uitstalling by ontvangs oor die roofdiere

Die ontvangs kantoor

Ons het 'n paar hartebeeste hier raakgeloop

Sonsonder in die Kgalagadi is altyd mooi. Uile gaan nou op diens

Die uil wag maar vir skemer. Deur die dag jag die kameras hom




Waar is Nossob gelee?

154 km noord vanaf Twee Rivieren, wat weer 250 km noord van Upington is

Besprekings



Post: Blog2_Post
bottom of page