top of page

Ver in die ou Kalahari, lê daar 'n pan : Bitterpan!

Updated: Aug 8, 2023


Bitterpan is die kombinasie tussen ‘n 4x4 roete en 4x4 kamp. Om daar uit te kom, neem jy die eenrigting pad vanaf Nossob vir 54 kilometer. Om by Nossob uit te kom, ry jy natuurlik 250km noord vanaf Upington tot by Twee Rivieren en dan weer 150km in die park.

Voordat jy in die pad val, meld jy eers by ontvangs op Nossob aan, maak seker jou banddruk is 1.5bar of minder en reël dat die veldwagter die hek na die roete oopsluit ( jy maak ook seker dat jy genoeg drinkwater en hout vir die tyd van jou verblyf ingelaai het ).

Die roete is ’n tweespoorpad met baie sand. Geen sleepwaens word op die roete toegelaat nie. Die roete loop eers in ‘n westelike rigting vanaf Nossob vir sowat 28 kilometer. Omdat die meeste duine van Noord na suid lê, is dit die deel waar mens die meeste duine oorsteek.

Banddruk en momentum is kardinaal om seker te maak dat jy nie vasval in die sand nie. Teen die duine skommel die paadjie behoorlik, en is die balans tussen momentum en karsiek redelik fyn. Die paadjie is met die regte voertuig redelik maklik om baas te raak. Na die draaipunt, ry mens suid en steek jy baie min duine oor. Dit bly egter ongerep om jou, en ‘n groot voorreg om daar te ry.

Die kamp bestaan úit 4 slaapkamers met 2 enkelbeddens elk. Die A-raam kamers is van hout en seil gebou. Die vensters rits oop na ‘n klein stoepie en dan het elke kamer sy eie braai net langs die stoepie. Hoewel daar ‘n opsigter is, is daar geen selfoonopvangs, winkel of ander fasiliteite nie. Die belangrikste is dat jy behalwe jou eie kos, ook drinkwater en hout moet saambring. Elkeen van die kamers het ‘n badkamer oorkant die paadjie aan hulle agterkant. Die warm water word deur ‘n baie effektiewe gasverwarmer voorsien.

Tussen kamers 2 en 3 is daar baie goed toegeruste kombuis. ’n Enorme houttafel gee die gaste die opsie om almal saam te eet. Daar is ‘n koskas en yskas vir elkeen van die kamers en ’n gesamentlike stoof en opwasgedeelte. Aan die voorkant van die kombuis is ’n boma waar ’n groep lekker kan kuier om ’n kampvuur (bring dus genoeg hout!)

Die kamp kyk uit oor Bitterpan. My skatting is dat die pan sowat 500 meter in deursnee is. Met ons besoek was hy droog, maar die gemsbokke was bedrywing om in die verte van die pan aan iets te eet of te drink. Waarskynlik is daar sout of ander minerale wat hulle benodig. Van die ander gaste het met ons besoek vertel dat hulle voorheen daar was met die pan onder water, en honderde watervoëls wat daar baljaar.

Na ‘n goeie nagrus het ons uit geteken en moes ons so vinnig moontlik op Nossob kom om ons woonwa te gaan haal. Dus het ons die eenrigting 4x4 na die suide geneem wat na 20 kilometer by die duinepad aansluit. Die 4x4 roete in Mata Mata se rigting is die meer gewilde roete vanaf Bitterpan.

Die kamp is op sy eie primitief, in ‘n westelike rigting gebou en kyk uit op ‘n pan wat meeste van die tyd droog is. Dit ligging, die roete in en uit en die totale afgesonderdheid maak dit ‘n ervaring wat beslis die moeite werd is.

Die kamp is absoluut uniek, oordeel maar self:


Die roete is net so 'n ervaring soos die kamp self:








Sorg dat jou banddruk laag genoeg is


Veilige hawe!


Wat om te verwag op die roete


Kort Youtube video



As jy die hele roete wil bekyk



Hoe kom jy daar?

250km Noord van Upington is die ingang na die Kgalagadi by Twee Rivieren

150km verby Twee Rivieren is Nossob. Hiervandaan ry jy 54 km na Bitterpan

34 views0 comments
Post: Blog2_Post
bottom of page