top of page

Stap die Cape Camino Weskus saam met ons

Updated: Jan 1



Ons stap die Cape Camino (Weskus) vroeg in November 2023. Omdat ons in Gauteng bly, moet ons die oggend eers Kaap toe vlieg. Daarvandaan kry ons ‘n taxi wat ons tot op Dwarskersbos neem. Teen R1800 is dit nie goedkoop nie, maar baie gerieflik omdat Wendy met ons in kontak bly, betyds by die lughawe is, en ons gerieflik in haar Nissan bussie tot by Dwarskersbos neem.

Ons ontmoet ons eerste gasvrou, Melony daar. Dit is ons eerste besoek aan Dwarskersbos en ons verkyk ons aan die wit huise, net om die volgende dae nog baie wit huise te sien! Ons kry ons eie kamer met en-suite badkamer en Melony nooi ons uit om onsself tuis te maak en te ontspan. Ons Cape Camino T-hempde, Buffs en sleutel houer wag ook in ons kamer.

Ons kan natuurlik nie wag om die strand te sien nie, en dis sommer eerste op die lys om te gaan ontdek. More sal ons heelwat van die strand sien!

Etenstyd ontmoet ons Melony se ouers wat ook daar woon, en ons geniet ‘n heerlike ete saam met haar en Shaun oor ‘n glasie van die Kaap se beste rooiwyn. Na ‘n lekker kuier raak dit tyd om bed se kant toe te staan, want more is ons eerste dag op ‘n Camino en mens moet seker goed uitgerus wees.



Die volgende oggend eet ons ontbyt, pak deel daarvan in vir die padkos en sorg dat die reëlings vir die dag in plek is. Melony reël met Ammie, ons gids (op Cape Camino ‘n chaperone genoem) om ons in Velddrif te ontmoet. Dit is nie nodig vir Ammie om 12 km op ‘n reguit strand saam te stap nie.

Voordat ons vertrek, haal ons ons leë paspoorte uit en sien toe dat Melony ons eerste stempel daarop sit. Ons groet, neem die nodige foto’s en dan begin ons staptog uiteindelik.

Die is amper laagwater toe ons vertrek en daar is ‘n breë strand om op te stap. Ons vorder fluks en net na 9 stop ons by die Soverby Lapa vir ‘n koffie. Die strand is verlate behalwe vir ‘n enkelle hengelaar, 3 mense wat van voor af verby stap vir hulle oggend oefening en ‘n aantal rob karkasse. Ons hoor later dat die sterftesyfer onder robbe op so een jaar ouderdom baie hoog is. Mamma-rob wil hulle nie meer voed nie, en hulle het nog nie genoeg vernuf om op hulle eie te oorleef nie. Later die oggend sien ons hoe ‘n paar visser skuite sommer naby die strand hulle nette uitgooi vir iets om te vang.

Soos afgespreek bel ons vir Ammie toe ons by “die boom” verbystap sodat hy ons kan kom ontmoet. Ons voel ongemaklik dat daar ‘n groot groep mense staan en wag op die strand. ‘n Verbyganger vertel ons dat dit familie is van ‘n jong seun wat die vorige dag daar verdrink het. Daar word nog na die seun se lyk gesoek. Ek kry sommer ’n aaklige gevoel.

Met ons aankoms in Velddrif is Ammie op sy pos. Hy lei ons tot by die eerste winkeltjie. Ronel sien dadelik ‘n bootjie raak wat moet saamgaan as aandenking. Ammie beduie dat dit nog so 6 km se stap is na ons verblyf vir die aand. Ons draai sy arm om hierdie deel sommer saam met hom te ry. Ons is geestelik nie ingestel om so ver deur die dorp se teerstrate te stap nie. Hy gaan wys ons die vis-museum van Velddrif en ry die pad wat ons sou stap. By Bokkomlaan draai ons in na ons verblyf, maar stop eers vir ‘n ligte ete in Bokkomlaan teen die Bergrivier.’n Bier saam met vars Weskus vis en chips smaak vorentoe!

Ons gaan maak ons tuis by die selfsorg woonstel van Wendy wat ‘n klipgooi van Bokkomlaan af is. Wendy bring later die middag vir ons aandete en ook die nodige vir die volgende oggend se ontbyt.

Dag 2 begin met Ammie wat ons vroeg oplaai en tot by Alegria restaurant met sy voertuig neem. Die Stap vanaf Bokkomlaan tot Alegria is tans nie deel van die Camino nie, en sal nog reëlings verg om dit later in plek te kry.

Ons chaperone vir die dag, Madoda wag reeds daar. Madoda is bietjie skaam, maar baie effektief. Hy stap vooruit en maak heeltyd seker hy hou ons in die oog. Ons stap verby verskeie baaitjies waar bootjies van die plaaslike mense ge-anker lê. Die branders is doodstil en die bootjies roer skaars op die water. Later is dit hartseer om verby bouvalle te stap van wat vroeër visfabrieke was en nou net tuiste is vir graffiti en enkelle duiwe. Het ons mense regtig die vis so gestroop, of het die robbe ons uit ons visbronne gevreet? Mens kan lank hieroor gesels, maar hoe ookal, bly die beelde hartseer. Daar is darem nog ‘n fabriek of wat wat in werking is, kos aan ons mense verskaf en ‘n werk en lewe aan ander.

Ons gaan loer na die netjiese ontwikkeling by St Helena se hawe, en stap dan met die kronkelende strand tot by Vasco da Gama monument. Dié seevaarder het hier aan wal gekom op soek na water. Die Portugese regering het ‘n klompie jare gelede die monument aan Suid-Afrika geskenk om die nageslag aan hom te herhinner.

Ons volgende stop is by Shelly Point se vuurtoring. Die vuurtoring is gesluit, maar mens kan met trappies tot op sy basis klim en daar is volop geleentheid vir foto’s.

Net om die draai vanaf die vuurtoring is daar ‘n pragtige strand om die laaste klompie kilometer van die dag te stap, en dan in te draai na Shelly Point waar ons by Maggie van Rimpelwit B&B tuisgaan. Maggie ontvang ons hartlik en die lekker skoon waslappie wat sy aanbied laat my ‘n oomblik voel of ek in Mauritius of Maldives aankom.

Ons kry ‘n gerieflike en-suite kamer by Maggie en ontspan die middag heerlik. Aandete is spoggerige affêre, en ons smul saam met Maggie in haar eetkamer wat baie aan ‘n wynkelder herhinner.



Dag 3 begin met ‘n ontbyt, padkos pak en nog stapvriende vir die dag ontmoet. Maggie is ons chaperone vir die dag, en 2 van haar vriendinne vergesel ons op die roete. Ons stap deur Shelly Point, later ’n entjie op die strand totdat die paadjie al teen die kus kronkel. Dele van die pad is oor rotse, klein baaitjies, strandpaadjies en weer strand. Dit is vroegoggend koel en mistig, maar later wys die son tóg sy gesig vir ‘n rukkie. ‘n Vinnige stop vir koffie is net wat die dokter bestel het! Ons voel sommer beter met iets warm in die lywe. Later volg ons die roete ons deur die Groot Paternoster Natuurreservaat. Dis nie blomme seisoen nie, maar die plantegroei is steeds pragtig. Ons stap ook verby die Charlie Chaplin huis. Ons hoor dat die huis baie jare gelede aan die bekende akteur behoort het.

Later vertel Maggie dat as die mis nie so dig was nie, ons Paternoster in die verte sou kon sien. Ons stap ‘n hele paar kilometer op die reguit strand tot by Paternoster. Die gety is laag en ons het ’n baie breë strand om op te stap. Wit huisies verskyn uit die mis voor ons, en ons weet: Ons is nou by Paternoster. Ons stap deur ‘n klompie strate wat na ‘n redelik nuwe ontwikkelling lyk. Daarna vind ons die bekende plekke : Die Winkel op Paternoster, Die Kroeg op Paternoster wat ook die ”Panty Bar” is en my persoonlike hoogtepunt,  Ietsi Alz Take Aways. Hier kan mens Weskus vis en chips bestel wat in papier toegedraai is. Die hele geselskap bestel daarvan, net om uit te vind dat die porsies almal XXL is! Ons smul lekker, maar kan nie alles opeet nie.

Anton het intussen opgedaag met sy Landrover met ons tasse. Ons besluit dat die prakties is dat hy ons aflaai by The Sea Shack, ons verblyf vir die volgende 2 dae. Dit is ‘n paar kilometer buite Paternoster en ons sal more elk geval weer hierdie roete rustig stap wanneer ons ‘n afdag neem. Nooit het ek gedink dat ek ‘n Landrover so sal waardeer nie! Met ons aankoms by The Sea Shack verneem ons dat ons nie meer daar geboek is vir die 2 aande nie, maar op ‘n ander plek in die dorp. Dankie aan Anton en sy Landrover wat kon keer dat ons hierdie pad moes heen en weer stap! Ons spoor ons nuwe verblyf by die Paternoster Waterfront op, groet Maggie, Anton en die ander stappers en ontspan vir die res van die dag.



Die volgende dag is letterlik ‘n rusdag. Ons het besluit om na 3 dae se stap, een dag te rus. Dit val sowaar op die Sondag sodat die letterlik ons Rusdag is!

Maandagoggend vertrek ons met ’n nuwe chaperone, Eddie, na Afsaal. Ons kry ’n nuwe stapper, Dot vir die oorblywende deel van ons Camino by. Dot is vanaf Velddrif, geniet haar stap en aktiwiteite en is goeie geselskap vir ons.

Vanaf Paternoster stap ons verby The Sea Shack, Kaap Columbine en dan duik Tietiesbaai voor ons op. Ons het al baie gehoor van die groot getalle vakansiegangers wat in Desember hier kamp, maar vandag is hier net een karavaan. Eddie vertel dat hier al ‘n Jazz-fees aangebied is waar duisende mense opgedaag het. Tussen Tietiesbaai en Trekoskraal is die duine nog hoog, die strand nou en stap ons ‘n groot gedeelte van die roete teen die duine. By Trekoskraal neem die roete ons oos, die binneland in na die Afsaal Padstal van Alta.

Dis lekker koel toe ons net na 12 daar aankom en ‘n cuppiccuno is net wat mens weer warm maak. Naby die padstal is ‘n cottage wat Alta verhuur en as ons oornagplek dien. Ons gaan skrop nes en rus heerlik terwyl die Weskus wind buite loei. Laatmiddag val ‘n behoorlike bui reën.

Alta bring ons aandete. Ons is net 3 mense, maar sy sorg vir ons asof ons 3 dosyn is. ‘n Volledige hoender, groente, plaasbrood en kaasbord word gevolg deur asynpoeding. Ons wil nog eet, maar mens moet een of ander tyd stop! Die volgende oggend met ontbyt by die padstal word ons borde weer so gelaai. Dit is vir Alta so lekker om mense te sien lekker eet, dat sy nie klein porsies kan voorsit nie! Ons sal op ‘n ander tyd meer skryf hoekom jy moet moeite doen om by Afsaal Padstal ’n draai te maak.



Na die groot ontbyt, ontmoet ons Hendri, ons chaperone vir die dag. Hendri is ’n mediese spesialis wat na COVID besluit om het om die ware lewe op die platteland te gaan opsoek. In sy af-tye help hy graag met die Camino en doen allerlei adrenalien avonture.

Die roete gaan terug see toe in die rigting van Trekoskraal, en swaai suid teen die strand. Ons stap op tweespoorpaaie, dan op die strand en dan weer teen die duine. Ons kry interessante gate teen die sagte rotse waar sommige van die voëls hul neste maak. In sekere dele word ons verras deur fynbos wat steeds in blom is en kleur gee tussen die groen dele teen die kus. Die twee dames verras my en Hendri om te versoek dat ons agter ‘n rots wag voordat hulle hulle stapklere vervang met swemgewaad om vinnig in die see te duik.

Na ‘n bietjie rus, gaan ons voort in die rigting van Jacobsbaai. Steeds kry ons jong robbe wat teen die strand lê. Meeste van hulle is reeds dood. Teen vroegmiddag swaai Hendri weg vanaf die strand na die naaste woonbuurt. Ons stap na die Weskusplek restaurant waar ons ‘n koeldrank bestel. Na ’n rukkie daag Alta op met ons tasse en gaan laai ons by vandag se bestemming, Artist’s Nest af. Peet en Marietjie is ons gasheer en gasvrou. Hulle het ’n paar jaar gelede vanaf Roodepoort hierheen getrek, en geniet Jacobsbaai met sy mense baie.

Ons en-suite kamer is ruim en gerieflik. Ek vang ’n middagslapie voordat Peet ons nooi om saam met hom en sy honde te gaan stap en daardie deel van kus te verken. Hy neem ons na ’n uitkykpunt waarvan daar ’n paar in Jacobsbaai is. HIerdie uitkykpunte is gedurende die  Tweede Wêreldoorlog gebou om die see te bespied vir Duitse aanvalsbote. Vandag is dit gerieflike punte om die see en fynbos te bekyk.

Marietjie sit vir ons drie ’n heerlike ete op haar stoep voor, waarna dit tyd raak om te gaan rus vir more se laaste lang stap.



Ons sesde stapdag begin net na 8 wanneer Marietjie opdaag met Sean en Kyle wat ons chaperones is vir die stap na Saldanha. Hulle lei ons eers deur die dorp en fynbos na die strand. Ons bespied die see vanaf ‘n volgende uitkykpunt maar steeds is geen Duitse aanvalsbote in sig nie (grappie)!

Ons draai met ’n ander roete terug in Jacobsbaai se rigting voordat ons deur die natuurreservaat stap na Saldanha. Die son bak ons behoorlik, en dit voel na ’n fisieke stap toe ons die laaste stuk deur Saldanha se teerstrate stap.

Ons chaperones neem ons na ons bestemming vir die dag wat nie heeltemal klop met ons verwagtinge nie. Ons gasheer, Fanie van Saldanha Bay Accommodation verduidelik dat hulle verskeie selfsorg eenhede besit, en die tarief wat Cape Camino betaal is slegs voldoende dat ons in hierdie spesifieke eenheid kan tuisgaan. Dot weier om dit te aanvaar, en reël dat ons na ’n ander eenheid verskuif.

Ons vind later ons nuwe (en duurder) eenheid heel aanvaarbaar en ontvang ’n lekker aandete wat Saldanha Bay Accommodation vir ons reël. Ons besef dat dit ons laaste aand op die Camino is en dit raak ’n hartseer taak om te begin dink aan die vervoer reëlings terug lughawe toe.



Die laaste oggend begin met ’n ontbyt op die stoep saam met Dot. Dan pak ons die tasse vir oulaas en reël waar om dit te laat vir ons taxi. Ons groet en stap saam met Dot deur Saldanha se strate, af na die strand. Die laaste 3 km op ons Camino is teen die strand na Blouwaterbaai. By die Blouwaterbaai Lodge draai ons weg van die strand. Ons groet ons nuwe vriendin, Dot wat vandag nog tot in Langebaan gaan stap.



Dan wag ons vir ons taxi, vertrek terug lughawe toe en neem goeie herhinneringe, stories en gestempelde Camino Paspoort saam.


Kontak en besprekings

Afstande deur ons gestap:


Dwarskersbos na Velddrif

17.7 km

Alegria na Shelley Point

18.9 km

Shelley Point na Paternoster

20.1 km

Paternoster na Afsaal

16.6 km

Afsaal na Jacobsbaai

15.3 km

Jacobsbaai na Saldanha

13.5 km

Saldanha na Blouwaterbaai

3.7 km

Koste vir ons 2 persone ingesluit ekstra dag op Paternoster

R 22 600

Video






Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page