top of page

'n Luukse boskamp in die Kgalagadi by Kieliekrankie



Met ons besoek in Mei 2023 was Kieliekrankie die naaste boskamp aan Twee Rivieren. Vanaf Twee Rivieren is dit slegs 44 km tot by Kieliekrankie.

Vanaf Twee Rivieren, volg  jy die pad in Mata Mata se rigting en draai regs net na die Auchterlonie Museum en piekniekplek. ’n Paar kilometers verder draai jy af na Kieliekrankie om na 3 km by die kamp te parkeer. Die pad daarheen is so goed soos enige ander pad in die Kgalagadi. Ons het ons boswa gesleep en kon hom gemaklik daar parkeer.

Die foto’s wat mens altyd van Kieliekrankie sien is dat hy op ’n duin gebou is. Dit is presies korrek! Ons eenheid was aan die heel regterkant van die 5 eenhede. Vanaf die stoep kon ons nie net tot by oormore sien nie, maar ook die piekniekplek en museum van Auchterlonie.

Die eenheid is topklas toegerus. Daar is netjiese parkeerplek vir jou voertuig, dan volg ‘n kort paadjie tot by jou eenheid. ‘n Hek aan die buitekant maak dit baie veilig om jou deure oop te los (leeus en luiperds kan nie  daar inkom nie, maar slange wel!). Grappies op ‘n stokkie: in die warmer dae moet dit heerlik wees om jou deure oop te los sodat ‘n luggie op die duin jou plek kan afkoel. Die kombuis is baie goed toegerus en die kamer en badkamer is meer as voldoende.


Jou deur is goed beskut


Die kombuis en eetkamer het alles wat jy in die bos nodig het


Die slaapkamer is voldoende met goeie linne


Soos die res, het die badkamer wat jy benodig


In hierdie wêreld bestaan Eskom en loadshedding nie, maar wel sonpanele vir lig en gas vir jou stoof en warm water. Buite op die stoep is ‘n braaiplek met ‘n pragtige uitsig oor die watergat doer onder en die duine rondom jou.

Die besoekersboek is ‘n bewys dat al die diere van die Kgalagadi een of ander tyd hier ‘n draai maak. Jy moet maar net op die regte tyd op die regte plek wees. Die steenbokkies het heeldag naby ons eenheid rondgekuier, jakkalse en duiwe het kom drink, maar die kalahari-leeu het met ons besoek op ’n ander duin gesit!

Selfoon seine is (gelukkig) maar skraps, en jy moet onthou om jou braaihout en drinkwater saam te bring.


Daar.... ver op die horison, sien ons die Bokke lig die beker!

Die parkering is netjies en beskerm jou voertuig teen die elemente

Hier kan mens braai!


Die watergat is doer onder. Saans word hy verlig

Die Auchterlonie piekniekplek is net 'n paar kilometer hiervandaan

Kieliekrankie en ander boskampe het nie veel plek vir rondloop nie, maar baie tyd vir eet en dink!



Post: Blog2_Post
bottom of page