top of page

Mooi Berge Padstal het baie meer as net Mooi berge

Wanneer mens met die R44 vanaf Stellies na die Strand ry, is die Mooiberge Padstal so ‘n bekende stopplek dat dit amper nie nodig is om te beskryf nie. Loer op Google Maps, en jy merk op dat daar reeds meer as 2600 resensies op Google Maps oor die plek geskryf is.


Draai elk geval in by die hek, gaan eet of drink iets in die restaurant en vergaap jou aan al die diere wat deur ‘n baie kreatiewe kunsternaar langs die R44 staangemaak is. Na ‘n WP wen teen die Blou Bulle maak die Kaapse donkie altyd seker hy kom die bul by, daar teen die heining!



Die restaurant het iets vir elke smaak, en in die somer kan jy nie wegbly van ‘n lekker smoothie nie! Hulle Berry Best Smoothie is my persoonlike gunsteling.





By die padstal gedeelte is al die gewone padstal dinge soos vrugte, droë vrugte en vrug-in-die-bottel beskikbaar. Hierdie is nou nie een van die padstalle waar jy stilhou om die die beste winskopie in die geweste te kry nie, maar om iets besonders te soek, of ‘n groot verskeidenheid raak te loop. Die rakke is netjies gepak met droë vrugte, konfyt, ingelegte vrugte, en dan witblits vir die winter. Dit wil voorkom of die Brandslang witblits meer vure gaan laat brand as gaan doodgooi, maar probeer hom elk geval!






By die toonbank help die vriendelike personeel jou graag om alles op jou Visa te laai sodat jy eers terug by die huis oor die betaaldag hoef te bekommer. Buite kan jy weer na die donkie en die blou bul gaan kyk, terwyl vroutjie nog ietsie vir haar vriendin gaan kry om saam te vat. Om die hoek is ‘n uitstalling van ou trekkers en plaasimplemente as sy steeds nie opdaag nie.

As jy gewonder het: langs die restaurant is daar ook netjiese gratis badkamers.



Wat ookal jou smaak, draai maar altyd daar in as op die R44 ry.

Recent Posts

See All
Post: Blog2_Post
bottom of page